Briewe van lesers: 5 Oktober 2023

Onkunde kan mens duur te staan kom…

Of soos die Engelse sê: “A fool and his money are soon parted!”

Jare gelede is ons krag by ons huise op ’n boks buite gelees. Toe skuif die munisipaliteit dit straat toe sodat hulle een sentrale punt het waar hulle almal se krag kon lees. Natuurlik was dit vir almal duidelik dat dit baie beter so was! Die ouer huise in ons woonbuurt het almal skakelaars buite wat 30 amp kan hanteer. Oorskry dit en jou krag skop dadelik af. Ons was nie daarvan bewus van hoeveel ampere-heffing op die kragboks gehef word nie en is ook nie daaroor ingelig nie!

So vind ek nou eers uit dat Eskom ons al van 2019 aanslaan vir 45 ampere heffing sonder ons medewete, maar ons kan in elk geval maksimum 30 gebruik. En dit beteken so R167 ’n maand ekstra. So hulle steel al van 2019 al elke maand ’n bedrag, en dis ’n aansienlike bedrag gereken van jare terug. In my geval kon hulle die heffing net terugspoor na 2019, maar dit strek verder terug!

Hulle is nou bereid om my net vir ses maande te vergoed. Nou vind ek ook uit dat as mens omskakel na betaalkrag die ampereheffing verval en dit alleen spaar my R400 per maand!
So, skakel dadelik oor na betaalkrag!

Wonder hoeveel inwoners maandeliks so ge-vang word sonder dat hulle daarvan bewus is!
– Pine Pienaar