Geld moet rol…

Deur Poem Mooney

Dit moet spandeer word.

Ek het vanmôre met ’n vreemde nuk in my kombuis rondgedwaal. Die grimmigheid wat my so onderstebo gehad het, was die ontydige gekuier van Ousie Roeslyn in Stellenbosch. Die feit dat ek alleen moes koffie drink het hierdie grimmige wrok in my wakker gemaak. Net die blote feit en die afwesigheid van my betroubare gespreksgenoot het my vanmôre laat voel soos ’n bul in ’n glaskas.

Om eerlik te wees, die gesprek tussen myself en Ousie Roeslyn wat ons drie weke gelede gehad het oor die sosiale skurfte, wat ons mense aan bande lê, was die ander rede vir my “moerigheid.’’

Ek het my tweede beker koffie geskink en voor die lessenaar gaan sit vir ’n gesprek met die muse, juis omdat die gesprek wat my so omgekrap het, iets was wat die gemeenskap aan’t prate had.

Ek het Ousie Roeslyn se gesig in herinnering geroep, die aand voordat sy met die bus Stellenbosch toe is.

“Geld Gert” het sy die gesprek begin, “is die wortel van alle kwaad. Dit is die oorsprong van die verdriet, waarmee ons in hierdie land sit, en dit is die rede hoekom ek ’n bietjie wil gaan kuier in die Boland, net om my kop skoon te kry.”

Sy het my diep in die oë gekyk voordat sy verder gepraat het. “Ek weet jy lees elke dag koerant, jy kyk na die nuusberigte oor die televisie, maar het jy, of dink jy oor wat jy nie altyd wil hoor nie?”

“Het jy al ooit gedink wat in die land van ons aangaan Gert?” het sy my uitgedaag.

“Ons het mos nie gesien wie steel nie. Dit is die koerante wat dit sê.”

Ousie het vir ’n oomblik stilgebly. Sy het behoedsaam rongekyk, asof sy gedink het daar is iemand wat ons afgeluister het. Toe sê sy: “Wat is daardie sinnetjie wat jy altyd sê as jy bang is iemand kan jou hof toe vat, as jy reken, die mense van wie jy praat, kan dink hulle word geinkrimineer?”

“Praat Ousie van die sinnetjie, sonder benade-ling van regte?”

“Juistemint Gert, juistemint. Jy sien die bek koerante en die gedrukte elektroniese media, soos dominee Saayman altyd sê, beweer mos dit is nie geld wat verdien is nie. Dit is geld wat gesteel was.”

“Al wat ek weet Gert, my oorlede ma het altyd gesê, geld moet rol. Dis nie ons mense wat die geld gemaak het nie.

Die “geldgatte” het dit gemaak, sodat dit kan rol. En ons Roeslyntjie sal weet, dit is so gemaak, dat ons dit moet spandeer.”

“Al hierdie goed, Gert, wat ons land so deurmekaar het, het gebeur omdat mense nie hulle hande kan afhou van geld wat nie aan hulle behoort nie.”

Ousie het daardie aand met ons gesprek nagelaat om vir ’n tweede koppie koffie te vra. “Ek kon hierdie, diep waarskuwing wat sy geuiter het, onthou. Sy was nogal kortasem toe sy dit gesê het:
“Jy weet Gert, die diewe sal nooit kan boekhou oor die geld wat hulle gesteel het nie, want geld moet rol.”

Ek het vir my ’n tweede koppie koffie geskink en begin werk aan my nuwe gedig vir die bundel waaraan dink poeëte. Die titel van hierdie gedig heet uitgelewer. Die eerste strofe het my opnuut weer opgeval:
Uitgelewer
“Dit voel asof ons in hierdie land aan filistyne oorgelewer is. Ons stoei gedurig oor beurtkrag en korrupsie, geldwassery en anargisme terwyl die proletariaat gebuk gaan, onder gebrek aan kapitaal en woningnood.

Ek het die laaste lekseltjie van die moerkoffie afgesuig met my wrewelrige gedagtegang.”

“Dêmmit, Ousie Roeslyn! Jy moet ’n slaggie huis toe kom! Ek mis jou, my dierbare gespreks-genoot.”