Deur Tisha Steyn
DIE eienaars van die Cango Caves Estate sê hulle is moeg vir eensydige beriggewing oor Grootkraal UCC Primêr wat op hul eiendom naby die Kango Grotte geleë is. “Aangesien ons mening nie in beriggewing ingesluit word nie, maar slegs fokus op die weergawe van persone wat voordeel trek uit die skool, het ons besluit om die ware omstandighede rondom die situasie te deel,” sê Lodewyk de Klerk van die Kobot Familietrust.
Die trust het die plaas in 2009 op ’n veiling van die Van der Veen-boedel gekoop. Dit is in Februarie 2010 in Kobot se naam registreer. “In daardie stadium het die afslaer bevestig dat die skoolgeboue en grond waarop dit geleë is, deel vorm van die plaas en die WKOD die grond van die Van der Veen Trust gehuur het volgens ’n huurooreenkoms wat tot einde Mei 2010 geldig was. Ten tye van die aankoop het die Departement Landelike Ontwikkeling bevestig dat daar geen grondeis teen die grond is nie. Voorts het die Van der Veen Trust die Grootkraal-kerk wat in die 1830’s gebou is en waarin die skool die afgelope sowat 100 jaar gehuisves word, vir R60 000 van die UCC-kerke gekoop. Dit het beteken dat die skool geen aanspraak op die grond of geboue het nie en daarom is voortgegaan met die koop van die plaas,” sê De Klerk.
“Sedert die huurkontrak met die WKOD einde Mei 2010 verstryk het, probeer Kobot se regsverteenwoordigers tevergeefs om ’n nuwe huurkontrak met die WKOD aan te gaan, en die WKOD betaal sedertdien ook geen huur nie.”
Volgens Louis Oosthuizen, Kobot se regsverteenwoordiger, is die WKOD meer as R1 miljoen agterstallig met huur.
Tydens ’n vergadering met Donald Grant, destydse Wes-Kaapse Minister van Onderwys in April 2011, het hy aangedui dat die departement beoog om die leerders na Voorbedag Primêr, 16,3 km van Grootkraal, oor te plaas. Hy het ook aangedui dat Grootkraal in Julie 2011 sou sluit en die WKOD dus nie nodig het om ’n verdere huurkontrak aan te gaan nie.
“Volgens ’n hofbevel verkry, is die sluiting van Grootkraal tot einde 2011 uitgestel,” sê De Klerk. Die skool is egter nog nie gesluit nie en in 2011 is ’n interdik in die skool se guns toegestaan wat verhoed dat dit sluit voor die hofsaak verby is.
“Intussen word leerders vanaf Oudtshoorn deur die skoolhoof met vergoeding van die departement aangery skool toe. Die permanente en tydelike geboue wat nouliks 45 leerlinge kan huisves, het tans 200 leerders,” sê De Klerk.
Op grond hiervan het Kobot se regsverteenwoordigers aanbeveel dat ’n uitsettingsbevel verkry word. Na aanleiding van die uitsettingsbevel het die hof beveel dat die betrokke partye eers moet beraadslaag oor die raadsaamheid van die besluit om die skool te sluit,” sê Oosthuizen. “Dié aangeleentheid is steeds hangend.”
Sedert aansoek gedoen is vir die uitsettingbevel, het verskillende instansies ten gunste van die voortbestaan van die skool tot die stryd toegetree. Twee partye het as gemeenskapsverteenwoordigers die hof gevra vir ’n bevel dat ’n serwituut oor die eiendom in dispuut registreer word ten gunste van die gemeenskap.
Kobot het voorgestel dat die WKOD ’n gedeelte van die trust se eiendom onteien waar ’n behoorlike skool opgerig kan word. “Die WKOD is egter klaarblyklik steeds van mening dat die leerders na Voorbedag moet skuif,” sê Oosthuizen.
Regter Elizabeth Baartman van die Kaapse Hooggeregshof het die skool onlangs besoek. “Ons sal baie bly wees as haar besoek die saak nou op ’n spits kan dryf,” sê De Klerk.