Juffrou Daphne oorlede

Daphne Swigelaar (81). Foto: Garnett Wicomb

Daphne Swigelaar (81). Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE eggenoot van die ere-president van SWD Krieket is verlede week op 81-jarige ouderdom oorlede.
Daphne Swigelaar, ’n nooi Rensburg, was die eggenoot van Simon Swigelaar, ere-president van SWD Krieket. Juffrou Daphne, soos sy alombe­kend was, is na ’n lang stryd teen kanker oorlede en word Saterdag ter ruste gelê.

Juffrou Daphne het diep spore in die onderwys getrap, en was ’n allemansvriend, weldoener, saggeaard en bekend vir haar goedhartigheid.

Sy het haar laerskoolopleiding aan die Volks­kerkskool in Hoogstraat (vandag Swans Kwekery) ontvang, en haar sekondêre skoolopleiding aan die destydse Môrester Sekondêre Skool in Noordstraat in ’n ou tabakfabriek. Sy was een van die eerste studente aan die destydse Bridgton Opleidingskollege in die sogenaamde Rooidakke in ou Bridgton waar sy in 1954 afstudeer het.

Haar lang onderwysloopbaan het sy in 1955 by die Bloupunt Volkskerkskool begin waarheen sy met die goederetrein moes reis. Sy het later ’n pos aanvaar by die Volkskerkskool op Oudtshoorn, maar moes haar betrekking in 1960 bedank omdat sy op die punt gestaan het om te trou en jongmense in daardie dae voorkeur gekry het.

In 1964 het sy weer ’n betrekking by die North End Cong Skool in Bridgton gekry. Sy is later oorgeplaas na die Voorbereidingskool. Die skool is later herdoop is tot Protea Primêr.

Hier het sy vir 13 jaar middagskool gehou en in 1989 om gesondheidsredes die tuig neergelê.
Die Swigelaar-egpaar was byna 57 jaar getroud.

Sy was vandat sy 14 jaar oud was lid van die Volkskerkkoor. Sy het na haar troue koorlid van die Independente Kerk in Queenstraat geword en lid gebly tot met haar dood.

Sy word Saterdag om 11:00 vanuit die Weyers Memorial United Congregational Kerk begrawe na die huisdiens om 10:00 te Coralweg 3, Colridge View.

Sy word oorleef deur haar man, Simon, drie kinders, Colin, Rodney en Jennifer, ’n skoonseun Granville, twee skoondogters, Jenny en Ardene, agt klein­kinders en twee agterkleinkinders.