EdenFM nou ook hier ’n ateljee

Morné Pietersen, bestuurder van EdenFM, en burgemeester Colan Sylvester Vrydag by die opening van die ateljee op Oudtshoorn.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Morné Pietersen, bestuurder van EdenFM, en burgemeester Colan Sylvester Vrydag by die opening van die ateljee op Oudtshoorn.  Foto: Ilze-Mari Gründling

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE streeksradiostasie, EdenFM, het die afgelope Vrydag (12 Mei) hul vyfde ateljee geopen – op Oudtshoorn.

Die ateljee word in samewerking met die Youth Café bedryf.
“Ons het ook ateljees in Mosselbaai, Riversdal en Ladismith. Ons hoofateljee is in George,” sê Morné Pietersen, bestuurder van die radiostasie.

Pietersen sê dat hulle baie gelukkig is oor die nuwe ateljee.
“Ons glo dat radiowerk baie belangrik is.

“Enigiemand kan na die radio luister. Baie mense kan nie ’n televisie bekostig of orals saamdra nie, maar as hulle radio kan luister, bring dit mense bymekaar. Radio gee mense die kans om van ander gebiede en mense te hoor. Dit maak jou wêreld oop.”

Volgens Pietersen streef EdenFM om die “gapings in Eden te vul” met feitelike informasie en om diversiteit te vier.

“Ons glo elke persoon het die potensiaal om iets goeds te doen en te word. Ons almal het probleme en ons almal kry uitdagings. Om deur die radio van almal se lewens te hoor en so mense bymekaar te bring, is ons doel.”

Burgemeester Colan Sylvester het ook die geleentheid bygewoon en die lint by die ateljee geknip. Hy het ’n heildronk op die radiospan se goeie werk ingestel en hulle sterkte toegewens.