Deur Tisha Steyn
Sowat 40 uitstallers gaan deelneem aan die eerste Kango Agri Expo wat Dinsdag (23 Mei) by die NG Kerk Schoemanshoek en aanliggende persele aangebied word.
Die Expo is die inisiatief van die Kangovalleie Boerevereniging in samewerking met ’n aantal vennote.
“Ons wil met die Expo plaaslike boere blootstel aan verskaffers wat die gebied bedien en alternatiewe bied vir die talle uitdagings waarvoor hulle in hierdie moeilike tye te staan kom,” sê Chris Botha, voorsitter van die boerevereniging.
Die uitstallers sluit in:
• Afrivet oor onbenutte waarde van vitamine- en minerale-aanvullings;
• MSD-veearts doen ’n outopsie-demonstrasie;
• Universal Leaf SA se Jaco Malan praat oor die herlewing van tabak in die area;
• Timac Agro bied inligting oor nuwegenerasie-bemesting;
• Landcare met inligting oor droogtehulp;
• Die department van landbou verskaf meer inligting oor brucellose en ander algemene siektes onder vee, oor plaaswerkeropleiding en oor dienste wat die department aanbied;
• Cape Gate gee ’n praktiese draadspandemonstrasie en opleiding vir werkers; en
• CapeNature se Jaco van Deventer vertel meer oor die regulering van wildboerdery, ’n snelgroeiende bedryf wat alternatiewe diversifikasie vir boere op marginale grond verskaf.
Onder die ander uitstallers is daar saadproduksiemaatskappye, motorhandelaars en verskaffers van landboutoerusting, versekeringsmaatskappye wat onder meer die moeilike kwessie van vervoer van werkers agterop ’n bakkie sal bespreek.
“Almal is welkom om die Expo by te woon,” sê Botha.
Toegang is gratis. Verrigtinge begin om 10:00. Die NG Kerk Schoemanshoek se vroue gaan heeldag lank eet- en drinkgoed te koop aanbied en ’n kontantkroeg sal beskikbaar wees.
Navrae: Chris Botha (084 250 2483); Kobus Theron (0796190124).