Lasbriewe vir 2 van Calitzdorp wat wegbly van hof

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n vrou en drie mans van Calitzdorp wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, moes Maandag in die Oudtshoorn streekhof uitgestel word omdat twee van die beskuldigdes afwesig was.

Simoné Karelse, Keano Hess, Roland Meiring en Sabramay Valloo, almal van Bergsig, Calitzdorp, word daarvan aangekla dat hulle op 6 Oktober verlede jaar vir Niklaas Anta met ’n mes gedreig en van sy selfoon ter waarde van R800 beroof het.

Hulle het volgens die klagstaat gesamentlik en met een doelwit opgetree.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof om lasbriewe vir die arrestasie en aanhouding van Hess en Meiring gevra.

Hess, vir wie reeds vroeër ’n lasbrief uitgereik is, se borggeld is deur streeklanddros Daniel Boks aan die staat verbeurd verklaar terwyl die verbeurdverklaring van Meiring se borgtog oorgehou word tot 20 Augustus 2018.

Karelse, wie tans ’n vonnis uitdien, en Valloo bly in aanhouding.