Deur Garnett Wicomb.
’N MAN van Welbedacht naby Oudtshoorn wat aan verkragting, poging om ’n seksuele misdryf te pleeg en vertoon van pornografie aan ’n minderjarige kind skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof vir 18 jaar tronk toe gestuur.
Die 28-jarige Ryan Wagenaar het lewenslange gevangenisstraf vrygespring omdat die hof bevind het dat daar wel dwingende en wesenlike omstandighede bestaan om daarvan af te wyk.
Wagenaar was na sy skuldigbevinding erg omgekrap.
Hy is vir sy optrede in die hof ook ses maande gevangenisstraf opgelê vir minagting van die hof.
Hy het die dade waaraan hy skuldig bevind is, in 2016 gepleeg.
Die slagoffer was ’n 12-jarige meisie.
Wagenaar se getuienis is deur streeklanddros Daniel Boks as leuenagtig en vals verwerp.
Die klagtes van verkragting en poging om ’n seksuele misdryf te pleeg, is saam geneem vir vonnisdoeleindes.
Hy is daarvoor 15 jaar tronkstraf opgelê.
Hy is ’n verdere drie jaar tronkstraf opgelê vir die vertoon van porrnografiese materiaal aan ’n minderjarige.