Rampbestuurspanne, nooddienste en munisipaliteite bly op hoë gereedheid terwyl die swaar weerstelsel steeds dele van die Wes-Kaap beïnvloed.
Dit volg nadat die Wes-Kaapse Rampbestuursentrum vandag van die jongste stand van sake ingelig is.
Volgens Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, bly owerhede daarop gefokus om gemeenskappe te beskerm en vinnig op voorvalle te reageer.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het berig dat tussen 50 mm en 100 mm reën oor dele van die Sentrale Karoo aangeteken is, terwyl sommige gebiede in die oostelike Tuinroete sedert Woensdag tot 200 mm reën ontvang het. Reën sal na verwagting deur die dag voortduur, waarna toestande later die middag behoort te begin opklaar.
Die Departement van Water en Sanitasie het aangedui dat damme in die Sentrale Karoo- en Tuinroete-distrikte tans oorloop, terwyl riviere vol of in vloed is. Die Keurboomsrivier, wat tans teen 133 m³/s vloei, word noukeurig gemonitor.
Kyk die video hieronder vir ‘n blik op die huidige toestande by die Cango Wildlife Ranch:
Facebook-plasing: Hoe om die Cango Wildlife Ranch te help
Verskeie paaie is reeds deur die weer geraak. Die N1 by Leeu Gamka is weens oorstromings gesluit en geen veilige alternatiewe roete is tans beskikbaar nie. Moltenopas tussen Beaufort-Wes en Loxton bly ook gesluit.
In die Oudtshoorn-omgewing is gedeeltes van die R328 na die Kango Grotte, asook Welbedachtweg, gesluit weens weersverwante skade.
Volgens die Oudtshoorn Munisipaliteit is alle laagwaterbrûe tans gesluit en slegs die brug in Voortrekkerweg oop. Die publiek word gemaan om nie geslote brûe of rivierkruisings te probeer oorsteek nie.
Rotsstortings is op die R324 by Tradouwpas en op dele van die N12 tussen Oudtshoorn en George aangemeld. Rotsstortings is ook by Huisrivierpas op die R62 aangemeld, hoewel die pad tans steeds oop is vir verkeer. Plaaslike oorstromings is ook in Seweweekspoort aangeteken, waar toestande steeds gemonitor word.
Eskom het intussen berig dat kragonderbrekings voortduur in dele van die Tuinroete. Herstelwerk is aan die gang.
Rampbestuurspanne, nooddienste, munisipaliteite en organisasies bly ten volle gemobiliseer. Hulpverlening, insluitend kos, komberse en ander noodsaaklike voorrade, word waar nodig gekoördineer. Noodskuilings bly beskikbaar vir gemeenskappe wat moontlik tydelike verblyf benodig.
Inwoners word versoek om oorstroomde paaie en laagwaterbrûe te vermy, nie-noodsaaklike reise te beperk, weg te bly van riviere en brûe, en amptelike waarskuwings en kennisgewings dop te hou.
“Die situasie bly stabiel, maar toestande kan vinnig verander namate die weerstelsel deur die geaffekteerde gebiede beweeg. Ons versoek inwoners om waaksaam te bly, alle waarskuwings te gehoorsaam en geen onnodige risiko’s te neem nie,” het Bredell gesê.
Lees ook:
Weerdiens waarsku oor moontlike swaar reën vanaf Woensdag
Young boy helps Cango Wildlife Ranch after floods
Prins Albert-tehuis trek swaar ná vloede
Calitzdorp onderwyser help baba veilig die wêreld in tydens vloede
