Prins Albert-tehuis trek swaar ná vloede

Die onlangse swaar reën en vloede wat dele van die Karoo getref het, veroorsaak groot logistieke uitdagings vir Huis Kweekvallei, ’n tehuis vir bejaardes in Prins Albert.

Met Meiringspoort wat steeds gesluit is en verskeie ander paaie wat moeilik of glad nie begaanbaar is nie, sukkel verskaffers om voedsel, medikasie, toiletware en ander noodsaaklike produkte by die tehuis uit te kry.

Die situasie plaas toenemende druk op die daaglikse versorging van inwoners en maak dit moeiliker om noodsaaklike dienste betyds te lewer.

Ten spyte van die uitdagende omstandighede doen die bestuurder van Huis Kweekvallei, Martin Martins, saam met sy personeel alles moontlik om te verseker dat inwoners steeds veilig, versorg en gemaklik bly. Personeel werk hard om die daaglikse funksionering van die tehuis aan die gang te hou terwyl toegang tot die gebied beperk bly.

Die gemeenskap word nou gevra om, waar moontlik, ondersteuning te bied. Enige bydraes in die vorm van voedsel, klere, toiletware of ander noodsaaklike benodigdhede sal waardeer word en kan ’n groot verskil maak vir die inwoners van die tehuis gedurende hierdie moeilike tyd.

Lede van die publiek wat hulp wil aanbied of meer inligting benodig, kan hul kontak by 023 541 1626 of ’n e-pos stuur na huiskweekvallei@acvv.org.za. (CHRISTO VERMAAK)