Stirling Booysen (23), ’n oud-leerder van Langenhoven Gimnasium, het onlangs nie net as vlootduiker in die Suid-Afrikaanse Vloot gekwalifiseer nie, maar is ook met die gesogte Woody Woodburne Shield vereer as Beste Duiker van die Kursus.
Booysen was een van 16 nuwe vlootduikers wat op Vrydag, 22 Mei, tydens ’n uitpasseringsparade by die Suid-Afrikaanse Vlootduikskool in Simonstad hul duikerkentekens ontvang het nadat hulle Deel Een van die duikeropleidingsprogram suksesvol voltooi het.

Die Suid-Afrikaanse Vloot het sy nuutste vlootduikers tydens die geleentheid vereer.
Om as vlootduikers te kwalifiseer, moes die kandidate nege maande van uiters strawwe fisieke en geestelike opleiding deurstaan.
Die program vereis buitengewone dissipline, geestelike weerbaarheid en die vermoë om onder uitdagende omstandighede te presteer. Vir Booysen, wat in Oudtshoorn gebore is en tans in Simonstad woon, was die prestasie die vervulling van ’n droom wat reeds op ’n jong ouderdom begin het.
“Ek het op ’n jong ouderdom met lewensredding in Mosselbaai begin en nog altyd ’n liefde vir die water gehad. In 2023 het ek aan die SA Vloot se duiker-werwingsprogram deelgeneem en die geleentheid gekry om my loopbaan in die Vloot voort te sit,” vertel hy.
Volgens hom was die wintermaande, die koue water en die geestelike eise van die 18 maande lange opleidingsproses van die grootste uitdagings.
“Daar was oomblikke wat ek gevoel het ek wil opgee, maar as ’n groep het ons mekaar gemotiveer en deur die moeilike tye gehelp.”
Booysen sê dit was ’n besonderse gevoel om sy opleiding suksesvol af te handel.

“Ek was baie trots op myself. Dit het weereens bewys dat ’n mens enigiets kan bereik as jy jou kop daarop sit.”
Hy beskryf die oomblik toe hy sy duikerkenteken ontvang het as een van groot verligting.
“Ek was baie verlig dat al die harde werk en opofferings uiteindelik vrugte afgewerp het.”
As vlootduiker behels sy werk onder meer onderwaterverkenning, plofstofopruiming, soek- en reddingsoperasies, bergings-werk en onderhoudswerk aan skepe. Sy volgende doelwit is om diepduikkursusse te voltooi waar hy tot op 54 meter sal duik.
Aan jongmense wat groot drome koester, het hy ’n eenvoudige boodskap: “Enigiets waarop jy jou kop sit, kan jy bereik deur harde werk. Wanneer jy dink jy is moeg, het jy steeds nog 40% oor om te gee.”
Booysen skryf sy sukses ook toe aan die ondersteuning van sy familie, vriende en geloof.
“My ouers en vriende het my deur die moeilike tye gedra. Ek wil ook graag my Hemelse Vader bedank dat Hy my deur hierdie strawwe en uitdagende kursus gedra en beskerm het.” (MALISSA SPIES)
Lees ook: