Wantrouemosie teen speaker misluk

Foto: Oudtshoorn Munisipaliteit

Die mosie van wantroue teen die speaker van die Oudtshoorn Munisipale Raad, Suzane Jansen, het nie die steun in die raad ontvang nie en sy sal gevolglik in haar pos aanbly.

Die mosie, wat Vrydag 29 Mei voor die raad gedien het, is deur die VF Plus, DA en Icosa ingedien nadat verskeie bewerings en dokumentasie volgens die partye vrae oor die funksionering van die speaker se amp laat ontstaan het.

Die vergadering is ook regstreeks op Facebook uitgesaai, wat talle inwoners die geleentheid gebied het om die verrigtinge te volg.
Daar was 13 stemme teen die mosie en 10 stemme ten gunste daarvan, terwyl twee raadslede buite stemming gebly het.

Raadsheer Johan Allers van die VF Plus in Oudtshoorn, het ná afloop van die vergadering gesê die mosie was volgens hom ‘n toets van aanspreeklikheid, goeie regering en die bereidwilligheid van raadslede om op te tree wanneer ernstige bewerings oor openbare bestuur ter sprake kom.

“Die mosie het nie geslaag nie, maar die beginsels wat aanleiding daartoe gegee het, bly vir ons belangrik. Die vrae wat geopper is, verdien steeds behoorlike aandag en deursigtige prosesse,” het hy gesê.

“Dit is uiteindelik vir kiesers, wat later vanjaar gaan stem, om self te besluit wie verantwoordbaarheid bevorder en wie bereid is om vir skoon, deursigtige en doeltreffende regering op te staan,” het hy verder gesê.

Jansen het aangevoer dat die uitgawes waarna in die mosie verwys word, asook die gepaardgaande uitbetalingsprosesse, deur bevoegde senior amptenare en direkteure van die Oudtshoorn Munisipaliteit verwerk en goedgekeur is. Volgens haar was hierdie administratiewe prosesse nie uitsluitlik onder haar beheer nie.

Sy het ook na die kriminele klagte verwys wat raadslid Allers teen haar gelê het en tydens haar betoog aan hom gesê: “Ons sal mekaar in die hof sien.”

Die uitslag van die mosie kom enkele maande voor die plaaslike regeringsverkiesing later vanjaar, wanneer kiesers weer die geleentheid sal hê om die samestelling van die raad te bepaal. (KORRESPONDENT)

Lees ook:

Wantrouemosie plaas speaker onder vergrootglas

Date set for 2026 municipal elections