
Sewe weermagveterane van die destydse Charlie-kompanie by die Infanterieskool het verlede week met Projek-Rooivalk ’n fietsrit van 1 300 km en ʼn staptog van 120 km voltooi om ʼn teikenbedrag van R100 000 in te samel.
Die fondse word aangewend vir weermagveterane wat finansieel swaar trek. Die twee fietsryers, Ian Olivier en Adriaan van der Westhuizen het op Saterdag 17 Mei uit Johannesburg weggespring.
Die vyf stappers, Nantie Fourie, Nicky Uys, Bertus van Schalkwyk, Deon van Zyl en Daniël Lucas het uit Calitzdorp weggespring en een van die Infanterieskool se berugte Vasbytroetes oor 120 km al met die Swartberge langs tot by die Infanterieskool gevolg.
Die ryers en stappers het verlede Vrydag 30 Mei om ongeveer 13:00 by die Infanterieskool aangekom. Die fietsryers het nog ʼn klompie kilometers gekort om die 1 300 vol te maak en het Saterdag sommer gou-gou Victoriabaai toe gery.
Die fietsryers het sonder enige logistieke ondersteuning en vooraf bespreking van akkommodasie gery en op elke dorp waar hulle oornag het, akkommodasie opgespoor.
Die stappers het vooraf akkommodasie bespreek wat op die roete geleë is.
Volgens Nantie Fourie het hulle hierdie week met nog fondse wat ingekom het, die teikenbedrag van R100 000 oorskry. Volgens hom was die projek veel meer as bloot ’n fondsinsameling.
“As ons praat van kameraderie wat weer opgebou het, was die projek ’n baie groot sukses. Ons was saam in 1982 in Charlie-kompanie waar ek peletonbevelvoerder was en met hierdie projek kon ons weer bande smee.”
“Een maal ʼn soldaat, altyd ’n soldaat en na al die jare het dissipline en uithouvermoë weer sterk na vore getree. Die ouens se lywe, bene en voete het gehou! Alles is maar in ’n mens se kop.” (HANNES VISSER)