Bekendes by Prins Albert Leesfees

Bo: Wyle Annelie Botes en die Ou Gryse (Chris). Onder links: Martin Steyn en sy jongste boek, Donkerwater. Onder regs: Tom Dreyer, digter en skrywer. Foto’s verskaf

Die deelnemers wat na vanjaar se Prins Albert Leesfees van 29 tot 31 Augustus genooi is, het almal hul deelname bevestig. Dit beteken dat daar vanjaar weer ‘n program met ʼn groot verskeidenheid skrywers op die verhoog sal wees.

Die feesprogram begin Vrydagaand 29 Augustus in The Showroom met die amptelike opening wat gevolg word deur ’n huldigingsgeleentheid vir Annelie Botes, een van die land se mees gunsteling skrywers. Annelie is verlede jaar na ʼn moeilike gesondheidstryd oorlede.

Haar man, Chris (Ou Gryse) gaan oor Annelie se skryfwerk gesels en indien haar nuwe boek met rubrieke betyds verskyn, sal dit ook by die geleentheid bekendgestel word.

Op Saterdag se prosa-program is Andre Wilson, skrywer van Calitzdorp en sy uitgewer Karina Szczureck (weduwee van André P. Brink), Martin Steyn, Erla-Marie Diederichs, De Wet Bischoff en Sidney Gilroy.

Gilroy se splinternuwe boek, Roulette, word by die leesfees bekendgestel. Die digter Tom Dreyer gesels oor sy digkuns en sy digbundel, Nou in infrarooi, wat besonder goed ontvang is. Kunstenaar, Alex Hamilton, stel sy boek oor sy lewe as kunstenaar bekend.

Sondagoggend word aan plaaslike skrywers van Prins Albert gewy met die eerste item, Poetry at Sunrise, wat reeds om 07:15 begin.

Die organiseerders is tans besig met onderhandeling om ʼn Afrikaanse film wat onlangs verskyn het, op Saterdagaand te vertoon. Dit is nog nie gefinaliseer nie.

Die fees word afgesluit met ’n middagete uit die kookboek van André Hattingh, Cooking with Doc, waartydens dié bekende neuroschirurg en gesondheidsfilantroop oor sy boek en die oorsprong van die resepte gaan gesels.

Soos met vorige leesfeeste sal al die skrywers se boeke by die fees te koop wees, en die boekverkoper bring weer ʼn groot verskeidenheid ander boeke sowel as kinderboeke saam.

Hierdie beloof weereens om ‘n fees te wees wat elke boekliefhebber en leser sal onthou.

Buiten die leesfeesprogram word daar ook ’n uitstekende skoleprogram vanaf Donderdag aangebied.

Meer inligting oor dié program sal later bekendgemaak word. Op Vrydag 29 Augustus word ʼn skrywerswerksessie beplan indien belangstelling dit regverdig. Vir meer inligting hieroor, skakel Hannes by 083 467 1522. (HANNES VISSER)