Hierdie oorwinning is maar net een tree in ons eie ‘Long walk to freedom away from race classification, wat al in 2010 begin het,” sê Glenn Snyman van PARC (People Against Race Classification).
Dit volg nadat die Wes-Kaapse Bloeddiens hierdie week ingestem het om die gebruik van rasblokkies op hulle vorms aan te pas.
Snyman beywer hom reeds sedert 2010 deur sy organisasie om alle verwysings na ras op regeringsdokumentasie sowel as dokumentasie van privaatinstansies te verwyder.
Volgens Snyman is dit ongrondwetlik om van Suid-Afrikaners te verwag om een van vier rasseblokkies, swart, wit, bruin en Indiër op vorms af te tik.
Hy skenk reeds vir 15 jaar bloed en sê hy kan geen rede insien waarom bloedskenkers op vorms moet aandui van watter ‘ras’ hulle is nie.
Hy het in Januarie vanjaar die kwessie met die Hoof uitvoerende beampte van die Wes-Kaapse bloedoortappingsdiens opgeneem en het Maandag 2 Mei die antwoord ontvang.
In die skrywe sê Greg Bellairs, mediese direkteur van die bloeddiens dat hulle met die opstel van nuwe vorms ’n blokkie ‘Other’ sal byvoeg en dat hulle ook oorweeg om skenkers die opsie te gee om geen ras of kleur aan te dui nie.
Vir PARC is hierdie ʼn klein oorwinning, sê Snyman, maar dit is reeds die derde oorwinning wat behaal is.
Hy het, om die ‘absurditeit’ van die stelsel uit te wys in 2017 op ’n aansoekvorm waar hy vir ’n skoolhoofpos aansoek gedoen het, die blokkie BLACK afgetik.
Drie jaar later het die WKOD hom dissiplinêr van bedrog aangekla aangesien hy volgens hulle ‘bruin’ is en nie ‘swart’ nie.
Die WKOD het die saak teruggetrek toe dit op die dag van sy dissiplinêre verhoor die nasionale media gehaal het.
Die uiteinde hiervan was dat alle Z83- aansoekvorms vir staatsposte op 1 Januarie 2021 verander is met die byvoeging van ’n vyfde blokkie, OTHER.
In ’n vraag aan Snyman of hy dink dat PARC die afgelope 15 jaar iets bereik het, was sy ant-woord dat daar verskeie klein ‘victories’ is en dat PARC nie gaan ophou voordat alle rasblokkies op alle vorms verwyder word nie.
“Ons is Suid-Afrikaners en daar is geen rede waarom ons op enige manier steeds van mekaar onderskei moet word nie. Wie is die persoon of instansie wat besluit ek is bruin?”
“Wie besluit of ’n kind van ’n ‘wit’ pa en ’n ‘bruin’ ma, wit of bruin is – dit maak net nie sin nie,” het Snyman gesê. (HANNES VISSER)
Klein oorwinning nog ’n tree vir PARC
Glenn Snyman tydens een van PARC se gereelde optredes teen rasseklassifikasie op amptelike vorms. Foto verskaf