

Francisco Erasmus (50) van George wat aan moord met voorbedagte rade op die 60-jarige Abraham Herandien, ’n veewagter van Bloupunt, Dysselsdorp, skuldig bevind is, is Maandag in die Oudtshoorn streekhof lewenslange gevangenisstraf opgelê.
’n Groep hofgangers, grotendeels lede van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), wat die verhoor strykdeur bygewoon het, het na die vonnisoplegging hardop gejuig en hande geklap terwyl Erasmus uit die hof geneem word.
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat Erasmus beplan het om Herandien in Maart 2023 te vermoor en geen versagtende omstandighede bestaan om ’n ligter vonnis as die maksimum vonnis op te lê nie.
Erasmus het ’n motor op George gehuur om Herandien by sy huis op Bloupunt te gaan haal op die voorwendsel dat hy hom na Oudtshoorn wil neem om te help met sy en sy vrou se SASSA-kaarte.
Terwyl hulle gery het, het hy Herandien verskeie kere met ’n mes gesteek wat later deur die polisie onder ’n matjie in die motor gevind is. Hy is deur twee provinsiale verkeersbeamptes, Jean-Pierre Viviers en Paul Stassen, van die pad getrek nadat hulle opgemerk het dat daar aan die motor se nommerplate gepeuter was.
Erasmus het was geklee in Moslem-gewaad met handskoene en hy het aan die verkeersbeamptes gesê hy is met ’n ernstige beseerde man onderweg na die hospitaal op Oudtshoorn.
Die verkeersbeamptes het hom laat ry, maar agterdogtig geraak. Die motor is kort daarna by ʼn padblokkade afgetrek waar vasgestel is dat Herandien reeds aan bykans 12 steekwonde beswyk het.
Erasmus het Maandag ter strafversagting die hof gevra om in ag te neem dat hy reeds vyftig jaar oud is en tans ’n vonnis van 32 jaar uitdien vir ander misdade. Sy ma is baie siek en dan is daar nog sy vrou en dogter vir wie hy sorg.
Die staatsaanklaer, Adv Michelle Weyers, het aan die hof gesê Erasmus is ’n gevaar vir die gemeenskap en dat die enigste gepaste vonnis een van lewenslange tronkstraf sal wees.
In ’n slagoffer impakverslag wat sy aan die hof voorgelees het, sê die oorledene se vrou, Hester, dat Abraham haar alles was en sy hom geweldig mis.
Hy was haar hart en siel en sy het getrek uit hul huis op Bloupunt omdat daar te veel herinneringe van haar geliefde man was. Hulle was 42 jaar by-mekaar en 35 jaar getroud.
Die hof het gelas dat die vonnis van lewenslank nie met enige ander vonnis wat Erasmus tans uitdien, kan saamloop nie. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Die stigter van OCAC (Oudtshoorn Community Against Crime), Leon Campher, het na die vonnisoplegging sy dank uitgespreek teenoor die staatsaanklaer, die ondersoekbeampte, Ao Kuhn, asook die landdros.
“Geregtigheid het vandag geskied waarvoor ons baie dankbaar is,” het Campher gesê. (GARNETT WICOMB)