Inwoner wen splinternuwe motor in Spar-kompetisie

’n Verheugde Caren Scheepers ontvang die sleutels van die blink Hyundai by FJ en Skillie Pretorius. Foto: Hannes Visser

Die Scheepers-gesin van Oudtshoorn het Dinsdag 3 Junie, die trotse eienaars van ʼn splinternuwe Hyundai Grand i10 geword.

Caren Scheepers het sowat twee weke gelede die oproep ontvang dat sy een van die wenners is in die landwye Spar-kompetisie waar 50 motors op die spel is.

“Ek het eers gedink iemand skeer gek en toe die vrou my ID-nommer vra, het ek geweier om dit oor die foon te gee. Ek het gesê ek sal self Spar toe gaan en my ID-dokument daar wys,” het sy Dinsdag vertel.

Haar man, Skippie, en dogter, Pulani, was saam met haar om die ontvangs van die motor te vier.

Die sleutels van die motor is deur Skillie Pretorius, die eienaar van Oudtshoorn- en Klein Karoo Spar en sy seun FJ aan Caren oorhandig.

Die landwye kompetisie wat op 22 April begin het, duur tot 22 Junie wat beteken dat daar steeds geleentheid is vir Spar-klante om motors te wen.