Talya duik vir rekords

Bo: Oudtshoorn se eie Talya Davidoff tydens een van haar vryduik-sessies in die Bahamas, waar sy vandeesweek aan Vertical Blue deelneem. Foto onder: Talya in 2019 tydens haar destydse wêreldrekord-vryduiksessie. (Foto’s verskaf)

OUDTSHOORN se eie Talya Davidoff is tans in die Bahamas waar sy die wêreldbekende Vertical Blue vryduikkompetisie aanpak, en hoop om beide nasionale en kontinentale rekords te bereik, of verbeter!

Dit alles ten spyte daarvan dat sy sowat drie maande gelede verkeerdelik met longkanker gediagnoseer is, en nie eens verwag het sy sou die kompetisie kon bywoon nie.

Vertical Blue is ’n vryduikkompetisie wat reeds Maandag (1 Augustus) afgeskop het by Dean’s Blue Hole in die Bahamas, en tot 11 Augustus aanhou. Volgens Talya beteken dit dat sy ses dae se vryduik moet voltooi, in vier verskillende kategorieë, naamlik “monofin”, “bifins”, “nofins” en “free immersion”.

“Dit beteken dat daar baie geduikery is wat voorlê! Ek duik vir twee dae, dan rus ek een dag,” het sy vertel.

Sy is reeds vir vyf weke in die Bahamas besig, waar sy akklimatiseer tot die diepte en omstandighede van die kompetisie. Sy sê Vertical Blue dien ook as haar voorbereiding vir die wêreldkampioenskap wat in Oktober in Turkye sal plaasvind.

Al het sy reg voor die begin van die kompetisie gesukkel met ’n oorinfeksie, sê sy dat die eerste dag van die kompetisie wonderlik was. “Ek was super senuweeagtig om my oor uit te toets, maar alles het goed gegaan. Oor die algemeen is ek rerig bevoorreg om hier te wees,” het sy gesê.

“Dit sal die eerste keer wees dat ek laer duikteikens as my persoonlike beste dieptes sal aankondig, maar ek mik steeds daarna om alle nasionale en kontinentale rekords in alle dissiplines te bereik, of verbeter.”

Wat vir Talya die belangrikste aspek van haar deelname is, is dankbaarheid dat sy wel kan deelneem.

“Die belangrikste is dat ek regtig probeer om ’n gevoel van dankbaarheid te handhaaf, en my self te herinner dat ons almal net groot kinders is wat in ’n swembad speel,” skerts sy.

• Vir diegene wat Talya se deelname wil volg is daar ’n livestream-skakel op Vertical Blue se webtuiste.

• Vryduik (freediving) is ’n sportsoort waarin duikers in die diepsee en in swembaddens duik sonder die hulp van enige suurstoftoerusting. (Deur Stefan Skapie Goosen)

Be the first to comment on "Talya duik vir rekords"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*