


IN 2018 koop Paula en Hendrik (Pottie) Potgieter van Oudtshoorn die plaas Wildehondekloof, geleë in die heuwels langs die Lategansvleipad tussen die R62 en Matjiesrivier. Hul droom was om ’n private wildreservaat met ’n luukse gasteplaas te skep wat hul gaste toegang gee tot die skoonheid van die Swartberge en die Klein Karoo se diverse fauna en flaura.
Vandag is daar nege luukse en-suite kamers, ’n selfsorghuis wat ses mense kan huisves en ’n groot en beeldskone oopplan lodge met verskeie onthaal- en kuierareas. Aan die noordekant van die lodge lê die superluukse presidensiële suite. Dié ruim woonstel het ’n kaggel-sitkamer met leerbanke, ’n groot slaapkamer met ’n koningsklas-hemelbed, ’n vyfsterbadkamer met ’n stort en ’n bad, en ’n private stoep met ’n uitsig oor die omliggende berge en die rivier wat deur die landgoed loop.
Daar is ’n aantal roetes wat na Wildehondekloof lei. Vanaf Oudtshoorn kan jy met die R62 in die rigting van Calitzdorp ry en by die Lategansvlei-grondpad regs draai. ’n Alternatief is om deur Schoemanspoort te ry en die Matjiesrivier-grondpad te volg. ’n Derde roete lei vanaf Calitzdorp verby die Calitzdorpdam, berglangs en verby Kruisrivier totdat jy weer eens die Matjiesrivier-grondpad vind. Al drie dié roetes is beeldskoon en, sou jy een roete daarheen volg, volg gerus ’n ander roete terug.
By die plaas word ek vriendelik ontvang met ’n koel, klam waslap om die grondpad van my hande af te vee. Binne staan ’n tafel gedek met tuisgebakte happies, koue drankies en yswater met kruisement. Ek voel reeds soos ’n eregas en ek besef gou dat Paula en haar span die fynere kunsies van onthaal goed verstaan.
Ek stap uit tot op die stoep en vergaap my aan die lowergroen grasperke wat ’n kristal-helder swembad omring. Slegs twintig meter verder staan ’n trop njalas rustig en wei in die skadu van massiewe populierbome langs die rivier. Dié lodge het ’n gesogte heenkome geword vir natuurliefhebbers van regoor die wêreld en ek kan dadelik sien hoekom.
Voëlgesang vul die lug en Paula vertel hoe ’n voëlkenner onlangs sestig verskillende voëlspesies in slegs ’n halfuur hier kon identifiseer.
Teen vieruur die middag sit ek op ’n 4×4-voertuig wat ons die omliggende heuwels en klowe inneem op ’n wildsrit. Elke gas kry ’n verkyker en ’n koue bottel water, en vort is ons. Wildehonde-kloof bied nou wel nie die groot-vyf-ervaring nie, maar hier is oorgenoeg plaaslike wild om jou aan te verkyk. Naas die dertien verskillende bokspesies is daar ook kameelperd, zebra, aardwolf, rooikat, ratel, luiperd en Kaapse-otter op dié 4000 hektaar plaas.
Grootoor-koedoes met jong kalfies kou aan die soetdoring in die rivier. Twee klipspringers wip rats teen ’n byna-vertikale kliprantjie uit en ’n visarend kondig sy teenwoordigheid kenmerkend aan. Ons sien swartwildebees, springbok, blesbok en eland, en ’n wilde volstruis kom hardloop in die stofpad voor die voertuig uit voordat dit weer die bosse in verdwyn. Ons vergeet soms dat volstruise ook eens wilde diere was, dink ek by myself, en hoe wonderlik dat Wildehondekloof ons die kans bied om hulle wild in die natuur te sien.
Deur die heuwels bly die landskap van kruin to dal verander. Karoobossies word fynbos, en fynbos word bosveld, en dan weer grasveld rondom die ou wilgers langs die poele in die rivier. Ons stop op ’n koppie met ’n miljoenêrsuitsig en ons gids, Quinton, stel voor dat ons bietjie bene rek. Twee piekniekmandjies kom te voorskyn en ’n versnaperingstafel word gedek op die voertuig se afslaandeur. Olywe, kase, biltong en neute. Selfs gin & tonic, wyn, bier en koeldrank.
Quinton praat oor die veld en oor die plante wat al baie jare lank deur die Khoi-mense as medisyne gebruik word. Hy pluk takkies soos hy praat: wilde-als, renosterbos, kankerbossie, kooigoed, ysterbos, kruidjie-roer-my-nie… die lys gaan aan. Gebore en getoë in die Kangovallei, deel hy met ons die kennis wat sy ma, en sy ma se ma, aan hom oorgedra het.
Terug by die lodge brand die vure al. Vars roosterkoeke en sappige skilpadjies (skaaplewer in netvet) word as voorgereg gebraai. Plaaslike wyne word oopgemaak en almal vertel wildstories. ’n Langtafel op die stoep staan gedek en die njalas kyk ons kalm, maar nuuskurig aan. Die hoofgereg is ’n morokaansgemarineerde volstruisfillet met ’n rooiwyn-kweper, geroosterde aartappels en pangebraaide groete. Vir nagereg kry ons malvapoeding wat met renosterbos gemaak is en roomys van rou kakao en piesang. ’n Glas goeie Pinotage word geskink, en die lewe is lekker.
Vir dié wat stilte en ruimte verlang en die fyner dinge in die lewe waardeer, bied Wildehondekloof ’n besonderse toevlugsoord. Intieme troues, korporatiewe funksies en familie-geleenthede sal ook perfek in hierdie idilliese oase aard.
Vir meer inligting en besprekings, besoek gerus Wildehondekloof se webtuiste by www.whkloof.co.za of skakel 082 551 3019. ’n E-pos kan ook na info@whkloof.co.za gestuur word. (Deur Robert Koen)
I heard about the place but saw the pictures now and would love to visit
Ek het nou saam met die skrywer lekker deur die Swartberge gery,wat n wonderlike ervaring,nou kan ek my indink hoe groen dit daar is veral nadat jy so ver weg is uit Oudtshoorn se hitte