ONDUIDELIKHEID oor wie tans Kannaland se burgemeester en onderburgemeester is, duur voort.
Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het Maandag bevind dat die ANC se skorsing in Februarie van die burgemeester, Nicolaas Valentyn, en onderburgemeester, Leoni Stuurman, onwettig en ongeldig was.
Valentyn en Stuurman het hulle tot dié hof gewend om hul skorsing deur hul party tersyde te stel.
Die skorsing het gevolg nadat mosies van wantroue in die Icosa-burgemeester, Jeffrey Donson, en Icosa-onderburgemeester, Werner Meshoa, in Januarie suksesvol was en Valentyn en Stuurman tot nuwe burgemeester en onder-burgemeester verkies is. Hulle het hierna ooreenkomste gesluit met die raadslede van die DA en die Kannaland Independent Party (KIP) sonder ’n mandaat van die ANC. Valentyn en Stuurman se lidmaatskap van die ANC is ook beëindig.
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het intussen op 28 Februarie Kannaland se waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur, kennis gegee dat Valentyn vervang moet word deur Anthony Ewerts en Stuurman deur die jong politikus Bradley Benades.
“Dit is tydens die verhoor voor my bevestig dat daar geen burgemeester of onderburgemeester in die munisipale raad is nie. Daar is ook nie aan die hand gedoen dat die verligting wat die applikante soek onmoontlik of nadelig vir die munisipaliteit of sy inwoners is nie,” lui die uitspraak.
Volgens Avontuur is daar egter nou verdere verwarring oor die situasie nadat “nog ’n hofuitspraak” Dinsdag “tot ’n ander gevolgtrekking gekom het”. Die Hoorn kon nie voor druktyd vasstel na watter hofsaak verwys is en wat die uitspraak daarin behels nie. (Deur Liesel le Roux)
Valentyn en Stuurman se skorsing is onwettig, bevind Hooggeregshof
Leoni Stuurman en Nicolaas Valentyn - van burgemeester en onderburgemeester tot skorsing en weer tot verwarring oor poste.