Harmse skuldig op alle klagtes

’N GAUTENGER wat ’n sakeman van Oudts­hoorn, Matthys Slabbert, uit meer as ’n halfmiljoen rand bedrieg het deur hom as advokaat voor te doen, is Maandag in die Oudts­hoorn Streekhof op dié klagte asook klagtes van bedrog en geldwas­sery skuldig bevind. Hy word 30 Maart gevonnis.

Ronald Dale Harmse (50), met 27 vorige ver­oor­delings waaronder talle vir diefstal en bedrog, het skuld erken op die twee eerste aanklagte maar onskuldig gepleit op die klagte van geldwassery.

Hy het in Februarie 2020 vir Slabbert, uit R535 000 bedrieg deur voor te gee dat hy ’n advokaat is.

Slabbert het getuig dat hy die geld op Harmse se versoek vir veilige bewaring in ’n trustrekening inbetaal het wat Harmse aan hom verskaf het. Harmse sou die geld terugbetaal het na ’n bevel van die Hooggeregshof, maar het dit nooit gedoen nie.

“Ek het tot vandag geen geld ontvang nie,” het Slabbert getuig.

Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en Harmse op al drie klagtes skuldig bevind.

Harmse se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, vra die hof egter om af te wyk van die minimum vonnis van 15 jaar vir bedrog en ’n vonnis van sewe jaar tronkstraf as gepas aanbeveel.

Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het toegegee dat die hof kan afwyk van die voorgeskrewe vonnis maar in ag moet neem dat die klaer swaar verdiende geld verloor het.

Harmse bly in aanhouding en sal op 30 Maart gevonnis word. (Deur Garnett Wicomb)