Colin Swigelaar, adjunk-prinsipaal (links), Elizabeth van der Westhuizen (leerkrag) en die prinsipaal, Jean Swanepoel.
Foto: Stefan Skapie Goosen
Aurial neem afskeid
“Dit is met hartseer dat die skoolgemeenskap afskeid neem van twee kollegas wat help bou het aan Aurial Kollege.” Dit was die boodskap van Jean Swanepoel, prinsipaal van Aurial Kollege op Oudtshoorn.
Die skool groet vanjaar sy adjunk-prinsipaal, geskiedenis en Duits-onderwyser, Colin Swigelaar; asook vir Elizabeth van der Westhuizen, Engels onderwyser.
Hul afskeid is Maandagaand by De Soete Inval gehou.
“Hulle het nie net help bou nie, maar hulle het ook ’n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van leerders, personeel en ouers. Dié opvoeders het lewenslange indrukke op vele mense se lewens gelaat,” het Swanepoel gesê.
Volgens Swanepoel kan die dank en waardering wat die skoolgemeenskap teenoor hierdie opvoeders het, nie slegs in woorde beskryf word nie.
Swigelaar is reeds sedert die aanvang van Aurial, toe dit nog ’n anneks van die Bridgton Sekondêre Skool in 1997 was, deel van Aurial.
“Ek was van die begin af adjunk-prinsipaal, en het geskiedenis en Duits gegee,” vertel hy.
Volgens hom gaan hy nou eers lank rus en herstel na sy meer as 30 jaar in die onderwys.
“Ek gaan die stres en spanning afskud, meer tyd met my twee kleinkinders spandeer, en natuurlik meer golf speel,” sê Swigelaar.
Swigelaar en Van der Westhuizen sê albei dat hulle die kinders die meeste sal mis.
“Elke kind het ’n plek onder die son, en om beter mense uit hulle te kon maak, was ’n voorreg,” het Swigelaar gesê.
Van der Westhuizen is sedert 1999 deel van Aurial en het Engels addisionele taal en naaldwerk aangebied, “toe naaldwerk nog op skool as vak aangebied is”, sê sy. Volgens haar gee sy al 26 jaar lank naaldwerkklasse. Sy was 43 jaar in die onderwys.
Met haar aftrede sê sy gaan sy ontspan en “alles doen waaraan ek kan dink.” Van der Westhuizen gaan haar passie vir naaldwerk uitleef en bietjie “bak en brou.”
“Tussen al die wonderlike herinneringe sal ek my tyd saam met die kinders en die kollegas wat gekom en gegaan het, die meeste onthou.”
(Deur Stefan Skapie Goosen)