Oud-Bloupunters onthou gedwonge verskuiwings

Een van die donkiekarre wat Saterdag - soos in die verlede - mense na en van Bloupunt vervoer het. Franklin Booysen skryf die week op Facebook die volgende oor Saterdag se vieringe: Belangrike, hartseer en vergete geskiedenis wat van die boustene was in die vorming van die hedendaagse Dysselsdorp. Hierdie was eintlik een van die eerste gedwonge uitsettings, voor Distrik 6. Dis ’n jammerte dat Distrik Ses op almal se lippe is, maar niemand weet van Bloupunt nie. Mag ons nooit vergeet wie ons is en waar ons vandaan kom nie. Foto verskaf

GESKIEDENIS is ’n gesistematiseerde verhaal van iets wat werklik plaasgevind het, veral van wat met die mensheid, ’n volk, ’n individu of met betrekking tot die een of ander saak gebeur het.

Die storie van die gedwonge verskuiwings op Bloupunt, die onluste en die skade aan die ge­meenskap op Bloupunt is so ’n stukkie geskiedenis wat nie weggewens kan word nie.

Verlede Saterdag se Erfenisviering op Bloupunt was een van die mees geslaagde Erfenisvierings nog daar, ’n feesviering wat elke jaar plaasvind op ’n perseel waar die garingbome, peperbome en versande fondasies, asook die begraafplaas, stawende bewyse is dat daar eens op ’n tyd ’n gemeenskap hier gevestig was.

Reeds van vroegmôre, Saterdag 24 September 2022, het oud-inwoners na die weermagtent in Bloupunt opgetrek. Sommige oud-inwoners is met donkiekarre met veelkleurige ballonne na die feesterrein aangery.

Omdat daar nie ’n amptelike fotograaf was nie, is die gaste aangeraai om soveel moontlik foto’s met hulle selfone te neem vir ’n moontlike plakboek vir die toekoms.

Dit was inderdaad ’n merkwaardige dag in die geskiedenis van ’n “verdwene” gemeenskap.
Die sprekers van die dag het die gebeure van dié dag, bykans 51 jaar gelede, beeldryk geskets, asof dit gister gebeur het. Klem is gelê op die onmens­like dade wat daardie dag op Bloupunt plaasgevind het: skermutseling met die polisie, onmenslike arrestasies, selfsugtige uitsettingsbevele en die trekke wat deur die afdelingsraad Dysselsdorp toe aangery is.

Inwoners wat nie wou trek nie, is gedwing en as daar teenstand gebied is, is daar hardhandig met jou afgereken en is die bestaande huise met kruiptrekkers gesloop.

’n Goeie gevolg van die afgelope klompie jare se volgehoue feesvieringsprogram, is die toename in jongmense en kinders wat dit bygewoon het en die feit dat die storie oor Bloupunt nog ver van klaar vertel is, asook die versameling van stories van daardie spesifieke dag, die foto’s en koerantuit­knipsels.

Een van die oud-inwoners het ’n hartroerende storie uit haar jeugjare vertel: Uit die oë van ’n kind, het sy haar ervaring genoem.

Die dag was ’n rasende sukses en na afloop van die Erfenisprogram het van die oud-inwoners aan hulle kinders die erwe gaan uitwys waar hulle grootgeword het. Alle eer aan die organiseerders!
• Lees meer oor Bloupunt by https://www.diehoorn.com/nuus/bloupunt-51-jaar-later-en-oud-inwoners-wroeg-steeds/. (Deur Poem Mooney)