R75 000-verlies toe gehoor nie wil wag en geld terugvra

Deel van die groot skare Sondagaand waar Jonathan Robain Sondagaand saam met sy koortjiesorkes en ander kunstenaars opgetree het. Foto’s: Garnett Wicomb

DIE 2022 Erfenisfees van die Oudtshoorn Christelike Jeugforum (OCJF) wat die afgelope naweek op die Bridgton Sportgronde aangebied is, was vol­gens die projekbestuurder van die forum, Phillip Seroux, ’n baie groot sukses en die grootste erfenisfees wat die forum nog gereël het.

En dit ten spyte daarvan dat die gehoor Sater­dag­aand nie wou wag vir die gewilde Rockets se optrede om 23:00 nie en hul geld teruggeëis het en die opkoms na ’n kerkdiens Sondag nie na wense was nie.

Volgens Seroux het Oudtshoorniete se ondersteuning vir die konsert van die bekende Jonathan Robain van TV-faam en sy koortjiesorkes Sondag egter alles die moeite werd gemaak.

“Dit was ons grootste erfenisfees in die forum se bestaan van twaalf jaar,” sê Seroux.

Die fees kon as gevolg van Covid-19 nie in 2020 en 2021 aangebied word nie.

Seroux sê die Rockets se optrede Saterdagaand kon nie plaasvind nie omdat die meeste mense reeds huis toe was en die klankmense die klanktoe­rusting weggepak het. “Ons moes die mense wat kaartjies gekoop het se geld teruggee en het sowat R75 000 se verlies gely, ook vir onder andere die klanktoerusting wat ons vanuit Worcester moes kry.”

Seroux het Oudtshoorniete om verskoning gevra vir die kansellering van die Rockets-konsert en gesê dit was buite die organiseerders se beheer.

Die Erfenisfees het Vrydagmiddag met sport­akti­witeite soos netbal, sokker, skaak, dominoes, sewesrugby en inheemse speletjies afgeskop. Sa­ter­dag se verrigtinge het vroegoggend begin met ’n optog teen dwelms, drankmisbruik, bende­be­drywighede, tienerswangerskappe en misdaad van­af Smartie Town tot by die sportterrein met ver­- skeie geestelike leiers wat die optog gelei het.

Die fees is daarna amptelik deur die burgemees­ter van Oudtshoorn, Chris MacPherson, geopen. “Ons moenie op Erfenisdag net die verlede herdenk nie, maar ook onthou dat ons ’n plig het om dit wat vir ons nagelaat is, te bewaar en te onderhou. Ons moet ook onthou dat wat ons nou doen, die erfenis vir ons kinders en hul kinders sal be­paal,” het hy gesê. Hy het daarop gewys dat die natuur rondom ons ook ons erfenis is, met ’n plek soos die Kango Grotte ’n wêrelderfenisterrein.

“Dit is deel van ons almal se erfenis en ons moet dit bewaar en daarna omsien,” het hy bygevoeg.

Die forum het ook die naweek ’n versoekskrif aan verteenwoordigers van die SAPD oorhandig waarin onder meer gevra word vir strenger optrede teen onwettige sjebeens en dwelmsmouse.

Die fees is Sondagoggend voortgesit met ’n spesiale kerkdiens waar Apostel Vincent Alexander van Kaapstad as gasprediker opgetree het en later die aand afgesluit met Jonathan Robain en sy Koortjie “Band”. “Dié optrede was ’n reuse, reuse, reuse sukses,” sê Seroux.

• Die Oudtshoorn Christelike Jeugforum is volgens Seroux op 31 Julie 2010 onder ’n boom by die Christen Herlewing Kerk in Bridgton gestig met die doel dat die verskillende jeugtakke in die Groter Oudtshoorn moet verenig en die jeug werkbare oplossings kry vir hul probleme met program­me in die gemeenskap om dwelmmisbruik, tiener­- swangerskappe tienermisdaad, bende-aktiwiteite, die probleem met straatkinders en HIV/vigs aan te spreek.

Die OCJF bied regdeur die jaar projekte vir die jeug aan en mense wat die forum wil ondersteun kan vir Phillip Seroux by 079 987 9486 of Johnny Baartman by 062 106 1904 skakel. (Deur Garnett Wicomb)