DIE verhoor van ’n verkeersbeampte van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat van korrupsie aangekla word, is verlede week in die streekhof tot 7 Oktober uitgestel nadat sy regshulpadvokaat hom aan die saak onttrek het.
Marshall Wagenaar staan tereg op twee aanklagte van korrupsie deurdat hy na bewering in April 2017 onderskeidelik R2 500 en R3 500 van twee broers, Johannes en Nicolas Mulder, ontvang het vir vroeër datums om swaarvoertuiglisensies te bekom.
Verlede week se onttrekking van sy regsverteenwoordiger, adv Piet van Wyk, het gevolg nadat Wagenaar die hof meegedeel het dat hy ’n ander regsverteenwoordiger aangestel en reeds betaal het.
Wagenaar was duidelik ongelukkig oor landdros Ntsoki Moni se weiering dat hy ’n ander regsverteenwoordiger aanstel. “My lewe is hier op die spel,” het hy aan die landdros gesê.
Volgens die landdros het Wagenaar al vyf keer van regsverteenwoordiger verander, het sy reeds ’n hofbevel uitgereik dat hy van regshulp gebruik maak, en kan sy nie haar bevel verander nie.
Die saak is vir ’n nuwe regshulpadvokaat uitgestel nadat twee verklarings van Johannes Mulder, wat tans in die buiteland is, deur die staatsaanklaer, Willem Vister, aan die hof voorgelees is. In die verklarings gee Mulder ’n breedvoerige beskrywing van hoe hy by die beskuldigde uitgekom en hom gevra het hoe hy hom kan help om ’n vroeër datum te kry vir die vernuwing van sy voertuiglisensie wat hy broodnodig gehad het. Die hof het vroeër beslis dat dié verklarings as hoorsê-getuienis aanvaar word.
Volgens Mulder het Wagenaar hom gevra om hom R2 500 te gee. Hy het egter nooit ’n vroeër datum gekry nie en na verskeie onsuksesvolle telefoonoproepe na Wagenaar besluit om na die polisie te gaan. Hy het nooit sy R2 500 teruggekry nie. (Deur Garnett Wicomb)