’N MENS woon soms jare lank op ’n plek voordat jy van sekere plaaslike juwele te hore kom, en vele Oudtshoorniete weet heel moontlik glad nie dat daar ’n internasionaal erkende jogasentrum reg hier in ons midde is nie!
In die pragtige en rustige Schoemanshoekvallei, op pad na die Kango Grotte en omring deur die majestueuse Swartberge, lê die wêreldklas BKS Iyengar Jogasentrum wat die volledige joga-ervaring bied.
Dié sentrum is 12 jaar gelede deur die stigters en eienaars, Jurgen Meusel en David Jacobs, in die ongerepte heuwels buite Schoemanshoek gebou. Jurgen, wat in 2020 skielik oorlede is, was ook die skepper van die pragtige inheemse Klein Karoo-tuin wat die jogasentrum omring.
Die sentrum is een van slegs 25 in die wêreld, en die gootste in Afrika, wat in dié spesifieke Iyengar-styl van joga spesialiseer.
David Jacobs, meester- joga-instrukteur, het vir dié bylaag meer oor dié pragtige Klein Karoo-gesondheids- en welstandateljee vertel.
David, ’n gesertifiseerde Iyengar-joga-instrukteur met meer as 30 jaar se studie- en instrukteursondervinding, het ook ’n diploma in liggaamlike opvoeding en het sy lewe daaraan gewy om die kuns en wetenskap van Iyengar-joga te bestudeer. En hoewel die Iyengar-jogastyl ’n reputasie het dat dit streng en metodies is, word David eerder aangespoor deur ’n diep liefde vir kreatiwiteit en verkenning.
”Ek kies om op die speelse en eksperimentele kant van dié styl te fokus,” vertel hy met ’n glimlag.
“Ons sentrum is ten volle toegerus en is spesiaal ontwerp om aan ons kliënte die geleentheid te bied om kwaliteit joga-onderrig te ervaar in hierdie rustige en ongerepte omgewing. Die Schoemanshoekvallei bied ’n verskeidenheid luukse en pragtige verblyfopsies om die ervaring vir studente van elders te volmaak.
“Hier kan jy die voordele van spring, of die gebruik van oefentoerusting soos stoele, toue, bankies en rekbande op verrassende maniere in my klasse ondersoek.
“My grootste vreugde as joga-instrukteur lê in die uitdaging van iemand se negatiewe of beperkende oortuigings oor wie hulle is en waartoe hulle in staat is,” verduidelik David.
Baie mense dink aan joga as ’n vorm van oefening, maar dit is veel eerder ’n vorm van ontspanning.
Die teenmiddel teen stres is inderdaad ontspanning, en om waarlik te ontspan is om diep te rus.
Hierdie soort rus is egter heeltemal anders as slaap. Slaap sluit steeds periodes van droom in, wat spierspanning verhoog en ook ander fisiologiese tekens van spanning insluit. Ware ontspanning is ’n toestand waarin daar geen beweging en geen inspanning is nie, en die brein kalm en stil is.
Volgens David kan daar gerus na joga verwys word as “aktiewe ontspanning”.
Dit bied aan ons die tegnieke wat die fisieke liggaam in jogaposisies plaas wat positiewe bewustheid, ontspanning, konsentrasie en meditasie kweek. Deel van hierdie proses is die ontwikkeling van goeie fisieke gesondheid deur die interne organe te strek, te masseer en te stimuleer; dus kan die beoefening van joga ook as aanvullend tot konvensionele oefening gesien word.
“Die Iyengar Joga-posisies is kragtig en voedend, deels omdat hulle langer as die meeste ander posisies gehou kan word omdat die liggaam deur toerusting ondersteun word. Hulle kalmeer ’n onstuimige brein, verminder verhoogde bloeddruk, laat die senuweestelsel rus en stel die immuun- en endokrienestelsels in staat om meer doeltreffend te funksioneer.”
David is beskikbaar vir jogaklasse aan enigiemand wat sy of haar gesondheid wil verbeter. Hy bied privaatlesse aan, maar ook maandeliks driedag-werkswinkels, almal by die sentrum in Schoemanshoek. Mense vlieg van reg oor die wêreld na Suid-Afrika om hier saam met hom te kom leer! David het gedurende die inperking ook aanlynklasse begin aanbied vir diegene wat verkies om tuis hul jogategnieke te oefen.
Volg gerus die BKS Iyengar Yoga Centre op Faceboook. Hul webblad kan besoek word by iyengaryogawithdavid.com. (Deur Robert Koen)
Wêreldklas-joga, in hart van Schoemanshoek
Die pragtige BKS Iyengar Joga-sentrum in die heuwels buite Schoemanshoek. Foto verskaf