Bloupunt: 51 jaar later en oud-inwoners wroeg steeds

’n Handvol Bloupunters en genooide gaste, onder meer die bekende Oudtshoorniet en skrywer Poem Mooney, het Sondag (24 April) op die verlate stuk grond waar hul gemeenskap meer as 50 jaar gelede gewoon het bymekaar gekom om die gedwonge verskuiwings van die Blouput-gemeenskap te herdenk, en om die toekoms van hierdie vergete gemeenskap te bespreek. Foto: Stefan Skapie Goosen

AL het die koue reënweer meeste mense Sondag (24 April) tuis gehou, het bykans 20 Bloupunters die weer trotseer om die gedwonge verskuiwings wat 51 jaar gelede daar afgespeel het, met heimwee, hartseer en ’n tasbare frustrasie te herdenk.

Bloupunt, ’n gemeenskap wat voor Dysselsdorp se ontstaan die tuiste van talle mense was, het op 24 April 1971 deurgeloop onder die Apart­heidsregering se gedwonge verskuiwings. Bloupunt is sowat ’n kilo­- meter van Dysselsdorp geleë, nader aan die N12 as waar Dysselsdorp is. Bloupunters is juis na die omgewing wat vandag as Dysselsdorp bekend staan, verskuif.

Tot op hede sê Bloupunters dat hulle nie vergoed is vir die grond waarvandaan hulle verwyder is nie, en word hulle steeds nie toegelaat om daarheen terug te keer nie, al het die minister wat in 2000 met grond­eise belas was, Thoko Didiza, die mense se grond aan hulle terug­gegee.

Volgens Ivy Cornelius (63), wat as jong meisie beleef het hoe haar gesin en gemeenskap met geweld van hul tuiste en eiendom verwyder is, het opstande die gedwonge verskuiwings voorafgegaan en is dit hoekom Blou­punt-gemeenskapsleiers destyds deur die polisie gesoek en vervolg is, en die res van die Bloupunt-gemeenskap geforseer is om waar Dysselsdorp nou staan, te gaan woon. Sy vertel die meeste van hulle moes hul besittings, diere en “alles wat hulle gehad het” agterlaat.

“Ons het hierdie herdenking vanjaar gehou omdat ons dit eerstens nie oor die afgelope twee jaar kon hou nie, en tweedens omdat ons besluit het dat ons nie ons geskiedenis gaan laat doodgaan nie. Ons grond is nog nooit aan ons teruggegee nie, en ons voel onse kleinkinders en agter­klein­kinders moet weet waarvandaan ons kom,” het sy passievol vertel.

Cornelius sê dat oorlewende Blou­punters nog nooit vertroosting gekry het oor die gedwonge verskuiwings nie, en het hulle al alles moontlik in hul mag gedoen om antwoorde uit die huidige regering te kry. “Ons het nou besluit ons gaan ons plek terugvat, en dat ons gaan begin om hokke hier op te slaan, sodat daardie minister kan terugkom en ’n regstelling kan maak.”

Met Die Hoorn se besoek het daar slegs een struktuur op die grond ge­staan.
Al is Cornelius en ander Bloupunters steeds ontevrede oor die huidige situasie, het sy gesê dat dit steeds vir hulle ’n eer is om te kan sê hulle is op Bloupunt gebore en getoë.

“Maar die manier hoe ons hier weggegaan het, was verskriklik, ons sal dit nooit vergeet nie.”

Cornelius onthou hoe haar pa, en ander gemeenskapsleiers moes vlug toe die verskuiwings plaasgevind het. “Hulle is vermom soos vrou­mense, met pruike op en vroumens­klere aan om te kon wegkom van die polisie af. Daar was selfs ’n vrou wat geboorte moes skenk in die tronk, en haar oom wat tot met sy afsterwe verlede jaar nog doof was omdat hy so geweldadig aangerand is deur die polisie. Dit is ’n trauma waardeur al ons Bloupunters gegaan het. Ons ouers is vandag weg, maar ons is nog hier,” het sy gesê. Sy sê sy onthou dié moeilike, droewige tyd in haar lewe asof dit gister was.

“Onderwysers is ook weggeneem; mense wat niks met die politiek van daardie tyd te doen gehad het nie.”

Daar bestaan ook verdere kommer dat, al word Bloupunters tans nie toegelaat om terug te keer na hul grond nie, dele van die grond glo al verkoop is aan mense wat geen regte daarop het nie. Die Bloupunters sê hul ouers en grootouers se grafte is ook steeds daar.

Poem Mooney, bekende Oudtshoorniet, skrywer, aktivis en Attekwa-hoofman, was ook die oggend daar om sy steun vir die mense van Bloupunt te toon. Mooney sê die geskiedenis van Bloupunt is nog nie klaar vertel nie, en dat dit deel is van Dysselsdorp se geskiedenis. Hy het self herinneringe van Bloupunt en sy inwoners. Hy onthou spesifiek, onder meer, hoe hy vir ’n moeder van Bloupunt kos vir haar seun wat in die gevangenis was moes neem.

“Wat ek vandag wil sê van die mense van Bloupunt: ons mag die erwe van onse vadere nooit vergeet nie. Ons mag nooit vergeet wat ons kinders aangedoen is nie. Moenie vergeet wat ons aangedoen is nie. Ons is nie kwaad dat ons wil bloed laat nie, maar ons is ongelukkig en hartseer.”

• Daar word tans gewerk daaraan om ’n verteenwoordigende komitee van Blou­pun­ters en moontlike ander rolspelers saam te stel. Bloupunters word gevra om haar te skakel op 084 496 2910. (Deur Stefan Skapie Goosen)