’N GELIEFDE oud-onderwyser van die Hoërskool Môrester en allemansvriend, Christopher Petersen, is op 7 April na ’n kort siekbed op 70-jarige ouderdom oorlede.
Hy is tydens ’n roudiens in die St Simons Anglikaanse Kerk deur sy seun, ook Christopher, beskryf as iemand wat nie selfsugtig was met sy liefde vir famlielede, vriende, bure en verbygangers nie. “Dadda was nie ’n perfekte mens nie, maar hy was die beste weergawe van homself vir enigiemand wat dit nodig gehad het.”
Hy het gesê hy sal sy pa onthou vir sy liefde en passie vir sy werk en sy vermoë om ’n positiewe uitkoms vir sy leerders te soek.
’n Voormalige kollega, Roy Smith, het Petersen in sy huldeblyk beskryf as ’n uitstekende onderwyser wat getrou sy leerders voorberei het vir die lewe na hoërskool. “Dit het nie by hom saak gemaak wat sy leerders se agtergrond of omstandighede was nie. Hy het net die beste vir almal gegee en die beste van hulle verwag.”
Volgens Smith kon hy nooit uitgepraat raak oor die prestasies wat sy oud-leerders na skool behaal het nie.
Petersen het sy laerskoolopleiding aan St Simons Laerskool ontvang en aan die Hoërskool Spes Bona in Kaapstad gematrikuleer. Hy was in sy matriekjaar die hoofseun en het sy tersiêre studie by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) afgelê. Hy het hy by die Goldfields-mynmaatskappy en die Caltex-raffinadery gewerk voordat hy in die middel 1970’s by Môrester as jong onderwyser begin het. Hy het later ’n paar jaar in die Kaap skoolgehou om met sy studies aan UWK voort te gaan, maar het in Januarie 1986 na Môrester teruggekeer waar hy as departementshoof van die wetenskap-departement op 30 April 2012, na 36 diensjare in die onderwys, die tuig neergelê het.
“Mr P” of “Mr Chris” of “Oubaas” soos sy leerders met respek na hom verwys het, het biologie, natuur- en skeikunde en natuurwetenskappe onderrig.
“Chris Petersen het gehou van tuinmaak. Daarvan het sy tuin getuig. Hy was ’n spanman, pynlik netjies, nederig en lief vir sy mense in Bridgton en Bongulethu.
“Hy het meer as sy kant gebring. ’n Onderwysman, gesinsman en ’n dierbare vriend,” aldus Smith.
Hy laat sy vrou, Llona, en twee kinders, Christopher en Chantelle, agter. (Deur Garnett Wicomb)
Geliefde oud-onderwyser van Hoërskool Môrester sterf
Vriende van die ontslape Christopher Petersen dra sy kis na die kerk vir sy roudiens. Foto: Garnett Wicomb