“As ek Cleopatra was sou ek nie in heuning en melk gebad het nie, ek sou in skaapvet gebad het,” het ek ’n paar jaar terug aangekondig terwyl ek ’n skaaptjoppie reguit van die vuur af eet.
Min het ek geweet dat hierdie aanmerking tot ’n besigheid sou lei.
So staan ek verlede jaar in ons kombuis in Pretoria met ’n magdom Klein Karoo skaapvet van ’n hele lam. My ouers besit Housemartin Guest Lodge in De Rust en ons gesin het hier kom kuier en is met vleis terug stad toe. “Die vet is mos te lekker om nie te gebruik nie, dit sal sonde wees,” het ek vir Philip my man gesê. Toe begin ek planne maak.
Ek het die skaapvet afgekook en in glasbottels in my yskas gestoor. Omelette is nou hiermee gemaak, spek daarmee gebraai en sjokolade koekies gemaak, dit was die wenner. Maar daar was steeds vet oor!
Ek onthou hoe my ouma ons tydens vakansies by die Vaaldam met speensalf sou insmeer en hoe ouma aan moederskant vertel het hulle sou kerswas fynmaak vir droë velle. ’n Idee het begin broei en nie lank daarna nie is O, VET! Skincare gebore, dit terwyl ek voltyds gewerk het en ons drie dogtertjies (10, 7 en 2) grootmaak. Ek is ’n joernalis en vir jare was my dae gevul met spertye en onderhoude.
O, VET! is vandag ’n lyfsorgreeks wat van Klein Karoo skaapvet gemaak word. Dit is natuurlik (en jy sal nie soos ’n skaaptjoppie ruik nie). Al die produkte word gegeur met suiwer essensiële olies en gedroogte kruie, meestal uit my tuin.
Die afgekookte en gefiltreerde skaapvet (talg) bevat vitamiene en verskeie minerale wat goed is vir jou vel. Dit verskil van die meeste ander rome en salwe omdat dit dieselfde vetsuurprofiel het as jou vel se eie olies. Jou vel herken dit en dit word binne minute geabsorbeer.
Die reeks bestaan uit verskeie lyfsalwe, nagroom, ’n haarolie en ’n genesende balsem wat ’n moet is vir enige handsak of gatsak.
O, VET! het hierdie afgelope jaar my ontvlugting geword. ’n Tyd waar ek kan stil raak. Vir jare het ek gehunker na eenvoud. Eenvoudiger leef en eenvoudiger velprodukte.
In Februarie het ek my werk by Huisgenoot bedank en etlike weke gelede het ons gesin van Pretoria na De Rust verhuis. My destydse “side hustle” groei elke dag.
Ek het die geleer dat dinge nie gejaagd hoef te wees nie. Dit lê in eenvoudige dinge, in bestanddele wat jy kan uitspreek, in ritmes wat jou weer laat stadig asemhaal.
Saans, wanneer die huis uiteindelik stil raak vat ek ’n klein bietjie van my eie In BOT lyfsalf en smeer dit stadig aan my hande en voete. Dis ’n eenvoudige oomblik, maar dis ook ’n herinnering: dat iets wat begin het by ’n skaaptjoppie langs die vuur, nou deel is van hoe ek na myself en gesin se velle kyk.
Miskien is dit al wat ek eintlik probeer doen met O, VET!, om weer plek te maak vir die eenvoudige.
Besoek gerus www.ovet.co.za om produkte te bestel en volg my reis op Instagram by @O_VET_SKINCARE. (CARLA COETZEE)
