Terugslag, maar gaan lê nie

DIE inperkingsverbod op drankverkope weens Covid-19 het uiteraard nasionaal ’n yslike negatiewe invloed op alle wynprodusente en drankhandelaars gehad, maar Karusa het nie stilgesit tydens dié moeilike tyd en die beste van ’n slegte saak gemaak.

Jacques Conradie, wynmaker van Karusa, sê die wyn- en drankbedryf is ’n hoë kostebedryf waar kontantvloei van deurslaggewende belang is om om te sien na produksie- en bedryfkostes, ingesluit personeel- en werkersvergoeding.

Karusa is 95% afhanklik van die plaaslike mark en nie ’n uitvoerder nie. Die ophef van wynuitvoere het Karusa dus nie geraak nie.

Conradie sê die hospitaliteitsinperking het die interafhanklikheid van plaaslike toerismebesighede in Oudtshoorn en om-gewing sterk beklemtoon ten opsigte van verblyf, aktiwiteite, restaurant ens.

“Karusa is uiters afhanklik van onder-steuning deur die plaaslike restaurante en gastehuise vir wynaankope en gasteverwysings na ons proelokaal/restaurant, wat minstens 70% van ons inkomste genereer,” sê hy.

Karusa word gedurende die week druk deur buitelanders besoek en is Saterdae een van Oudtshoorn se gewildste kuierplekke vir plaaslike mense weens die natuurskoon en die gehalte van onder meer wyn, mikrobier en pizzas.

“Dié inkomstegenereerders het dus weggeval, soos vir baie ander wyn-kelders. Met die inperking het ons egter vinnig en pro-aktief gereageer om die impak daarvan te versag. Ons het dadelik ’n nuwe webtuiste (www.karusa.co.za) met ’n aanlynwinkel laat bou deur Dawie Theron en het dit wyd en suid bemark met behulp van sosiale me­diaplatvorms.

“Ons het ook ’n beroep gedoen op kliënte en ondersteuners om te help met die veldtog. Die effek daarvan is dat ons ’n stewige toename in aanlynbestellings gesien het en voorberei om die bestellings vanaf 1 Junie te kan aflewer.

“Tot die inperking van grensbeheer en toerisme nie opgehef word nie, is aanlynverkope die enigste volhoubare roete wat ons kan volg.

“Ons bedank graag Oudtshoorn se inwoners wat ons baie goed met ons aanlynveldtog ondersteun,” het Conradie gesê.

Karusa het die stil tyd benut om instandhoudingswerk te doen.
Karusa se proelokaal is onder meer verbeter om ’n beter diens te kan lewer en reg te wees vir hul gaste as die restaurant weer mag oopmaak.

Die proelokaal is tans slegs oop vir wyn- en bierverkope van 09:30 tot 16:00 van Maandae tot Donderdae.

Karusa begin Maandag (8 Junie) ook met beperkte wegneemetes, veral ons pizzas! Bestellings kan geplaas word by info@karusa.co.za, by tel 0442728717, 0842084135 (Jacques) of 0839955927 (Saretha). (Deur Schalk le Roux)