
Oudtshoorn maak van 1 tot 4 Oktober gereed vir vier dae van musiek, sport, vermaak en geloof wanneer Love Oudtshoorn daagliks van 15:00 tot 20:00 by die Bridgton Sportgronde aangebied word.
Die fees vorm deel van die groter Love South Africa-inisiatief en bring kunstenaars, evangeliste en ander talent van Suid-Afrika en oorsee na die dorp. Die program beloof iets vir verskillende ouderdomme, met lewendige musiek, kinderaktiwiteite, sport, gemeenskapsuitreike en geloofsboodskappe.
Volgens die Global Network of Evangelists het die Love South Africa-inisiatief ten doel om mense in Oudtshoorn se verskillende gemeenskappe te bereik. Plaaslike kerke, jeug-leiers en ander rolspelers word ook by die uitreik betrek.
Onder die kunstenaars en vermaaklikheidspesoonlikhede wat deel van die feesprogram vorm, is die internasionale Christelike reggae-groep Christafari, die Britse DJ en vervaardiger Galactus Jack, Suid-Afrikaanse kunstenaars JIMOWORLD en CJAY, asook verskeie ander musikante en internasionale gaste. BMX-vertonings en ander vermaak vorm ook deel van die program.
Die internasionale evangelis Andrew Palau sal tydens die fees ’n boodskap van hoop bring, terwyl Wendy Palau onder meer by ’n spesiale vrouegeleentheid betrokke sal wees.
Oudtshoorn se eie talent gesoek
Plaaslike talent kry ook die kans om die verhoog te betree met Oudtshoorn’s Got Talent, wat deel van Love Oudtshoorn vorm.
Inskrywings vir die talent-kompetisie sluit op 25 September.
Die kompetisie is oop vir ’n wye verskeidenheid talent. Kategorieë sluit sang, dans, musiekgroepe en verskeidenheidsoptredes in.
Laasgenoemde kan onder meer komedie, toertjies, gimnastiek en ander spesiale optredes insluit. Solo-sangers, duette en kore kan in die sangkategorie deelneem, terwyl verskillende dansstyle, waaronder kulturele danse, moderne dans, hip-hop en amapiano, aanvaar word.
Vir meer inligting oor die kompetisie, besoek luispalauassociation.regfox.com/oudtshoorns-got-talent.
Die organiseerders beskryf die kompetisie as ’n geleentheid vir inwoners om hul talent op ’n groter verhoog te deel en deel te word van Love Oudtshoorn.
Meer besonderhede oor die fees is beskikbaar by lovesafestival.co.za, terwyl inskrywings vir Oudtshoorn’s Got Talent aanlyn gedoen kan word.
Be the first to comment on "Kom vier geloof en lewe by “Love Oudtshoorn”"