Jong rugbytalente van hoërskool Môrester en Protea druk stempel af in SWD-span

Foto’s verskaf.

Opwinding heers in plaaslike skoolrugbykringe nadat verskeie jong spelers en ’n afrigter hul plekke in die SWD o. 15-rugbystrukture losgeslaan het vir die komende Iqhawe Week.

Hoërskool Môrester spog met twee uitblinkers, Enzo Hendricks en Juvandre Moos, wat opgeneem is in die SWD o. 15-span.

Die span sal van 27 September tot 1 Oktober 2026 in Worcester aan die gesogte Iqhawe Week deelneem, waar hulle teen van die beste jong talent in die land te staan sal kom.

Intussen het Hoërskool Protea ook rede tot groot trots. Marcelino Mei is verkies tot die Iqhawe SWD o. 15-span, terwyl mnr. Adriaan Booysen as afrigter van die o.15-span aangewys is.

Hierdie prestasies beklemtoon die diepte van rugbytalent in Oudtshoorn en die belangrike rol wat plaaslike skole speel in die ontwikkeling van jong spelers.

Die Iqhawe Week is bekend as ’n platform waar belowende spelers hul vaardighede kan wys en waardevolle ervaring kan opdoen.

Vir baie is dit ook ’n geleentheid om hulself vir toekomstige hoër vlakke van rugby te bewys.

Skole, ouers en ondersteuners is dit eens dat hierdie jong spelers en hul afrigter reeds bewys het dat harde werk en toewyding beloon word. Daar is groot trots en ondersteuning vanuit die gemeenskap.

Met die toernooi om die draai, wens Oudtshoorn hierdie talentvolle groep alle sterkte en sukses toe. Hulle dra nie net hul skole se name nie, maar ook dié van die streek met trots. (GRANWILLE GOLIATH)

Be the first to comment on "Jong rugbytalente van hoërskool Môrester en Protea druk stempel af in SWD-span"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*