
Die Oudtshoorn Rotariërs se Naggholf, wat Vrydag-aand plaasgevind het, was ’n groot sukses met 14 spanne wat aan dié besonderse geleentheid deelgeneem het. Die spelers het nege putjies in die donker aangedurf.
Die geleentheid is uniek omdat die deelnemers ná donker met gloeiende gholfballe speel, terwyl neonligte en musiek die gholfbaan in ’n kleurvolle speelterrein verander.
Spanne het behoorlik gees gevang en in prettige uitrustings opgedaag, met baie gelag en ’n uitstekende atmosfeer van begin tot einde.
André van Greunen, wat 30 jaar gelede die eerste naggholf op Oudtshoorn gereël het, het vertel dat die gholfballe destyds heelwat anders gelyk het.
Klein gloeistokkies is binne-in die balle geplaas en spelers moes baie mooi korrel om nie die stokkies uit die balle te slaan nie. Daar was ook geen ligte op die baan nie.
Twee-liter-koeldrankbottels is afgesny en met sand gevul, waarna kerse binne-in geplaas en aangesteek is. Groot gloeistokke is gebruik om die bof aan te dui, wat deur die weermag verskaf is.
Omdat daar destyds min geld beskikbaar was, moes die organiseerders kreatiewe planne maak om die eerste naggholf moontlik te maak. Slegs 21 spelers het aan die eerste geleentheid deelgeneem.
Van Greunen was ook die oudste speler wat Vrydag gespeel het.
Hy het Donna-Lida van der Berg, gelukgewens met hoe pragtig die baan gelyk het en haar en haar span bedank vir al hul moeite met die aanbieding.
Die Rotariërs bedank elke deelnemer, onder- steuner, borg en skenker wat gehelp het om die aand moontlik te maak.
Die ondersteuning stel die organisasie in staat om steeds ’n verskil in die plaaslike gemeenskap te maak. (ANGELIQUE ERASMUS)
Be the first to comment on "Rotariërs se naggholf ’n reusesukses"