Otto gekies as skeidsregter vir Male National Championship-netbaltoernooi

Foto verskaf.

’n Bekende en gerespekteerde figuur op die plaaslike netbalbane, Juffrou Rozelle Otto, wat verbonde is aan Laerskool Wesbank het rede tot groot trots nadat sy deur Netbal Suid-Afrika gekeur is om as skeidsregter op te tree by die gesogte Male National Championship-netbaltoernooi.

Die toernooi vind vanaf 4 tot 9 Oktober 2026 by die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha plaas en sal van die beste netbaltalent in die land byeenbring. Vir enige skeidsregter is dit ’n besondere prestasie om op hierdie vlak betrokke te wees.

Die kampioenskap is be-kend vir sy hoë tempo en intensiteit, waar skeidsregters nie net tegnies vaardig moet wees nie, maar ook oor uitstekende fiksheid en uithouvermoë moet beskik. Elke wedstryd plaas groot eise op konsentrasie en besluitneming, wat hierdie geleentheid ’n ware toets van karakter maak.

Otto se keuring is die resultaat van jare se harde werk, toewyding en passie vir die sport. Sy het haarself gevestig as ’n bekwame en betroubare skeidsregter wat met integriteit optree.

Met die toernooi wat vinnig naderkom, is sy besig met haar finale voorbereiding.

Die Oudtshoorn-gemeenskap wens haar alle sterkte toe en is oortuig dat sy haar rol met trots en uitnemendheid sal vervul. (GRANWILLE GOLIATH)