INBRAKE by besighede op Oudtshoorn het tydens die inperking skerp gestyg, met ’n betroubare bron wat sê die styging is 100% in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar.
Volgens ’n gastehuis-eienaar, Errol Pretorius, was daar al drie inbrake gedurende die inperking by sy gastehuis.
“Die polisie het elke keer vinnig reageer en was van groot hulp vir ons,” het hy gesê.
Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die polisie kan ongelukkig nie syfers bekend maak nie.
Volgens haar is huisbrake by wonings minder as verlede jaar, “maar huisbrake by besighede het heelwat toegeneem. Meeste besighede was toe tydens die inperkings, met nagklubs wat heelwat deurgeloop het. Die goedere wat die meeste gesteel is, is kruideniersware en drank.”
Uit gesprekke met sekuriteitsmaatskappye in Oudtshoorn blyk dit dat drankwinkels, kerke, skole, spazawinkels, store en plase die meeste geteiken is. Drank en geld was onder die gewildste teikens.
Wynand du Plessis, wat kameras moniteer vir Blacklist Security, sê dat daar tydens die inperking baie meer beweging van ongewenste mense plaasgevind het, en dat baie meer alarms geloei het weens inbrake. “Ons wagte het ook meer beweging gewaar as voor die inperking by persele wat ons oppas.
“By Checkers in die middedorp het hulle selfs soos Spiderman oor lemmetjiesdraad geklim.”
Van die gevalle wat uitgestaan het, volgens Du Plessis, is die inbrake by die Wicit Sportkroeg waar ’n man deur die skoorsteen toegang tot die besigheid verkry het, en die gewapende roof by Rainbow Motors se winkel, Die Naguil.
“Ons het in noue samewerking met die polisie hierdie gevalle hanteer. Sodra ons iets vreemd op die kameras gesien het, het ons die polisie laat weet. Daar was elke keer goeie reaksie.” (Deur Stefan Skapie Goosen)
Inbrake by besighede styg sterk met inperking
