Meiringspoort bly steeds gesluit terwyl herstelwerk voortduur

Hierdie foto is einde Augustus deur Suezette Smit, bekende motiveringspreker en De Rust inwoner geneem. Foto: Suezette Smit

Meiringspoort bly vir gewone verkeer ge-sluit terwyl omvangryke nood- en herstelwerk aan dié belangrike verbindingsroete tussen die Klein en Groot Karoo voortduur.

Die Wes-Kaapse regering se plan is om ’n tydelike oplossing teen Desember 2026 in plek te hê. Dit sal na verwagting behels dat voertuie die poort onder streng toegangsbeheer kan gebruik terwyl die permanente herstelwerk voortgaan.

Die beoogde datum is egter nie ’n gewaarborgde heropeningsdatum nie en bly afhanklik van gunstige weer, veilige werksomstandighede en die vordering van die konstruksiewerk.

Premier Alan Winde het tydens ’n amptelike terreinbesoek die ekonomiese belang van die roete beklemtoon. “Belangrike roetes soos Meiringspoort is ’n ekonomiese lewensaar vir gemeenskappe in die streek.” het Winde gesê.

Volgens Winde is die veilige heropening van die roete noodsaaklik om plaaslike werkgeleenthede, ondernemings en inwoners se lewensbestaan te beskerm.

Herstelwerk het reeds begin: Spanne het met die verwydering van puin en ander herstelwerk aan die De Rust-kant van Meiringspoort begin. Soortgelyke werk sou daarna ook vanaf die Klaarstroom-kant aangepak word.

Die Wes-Kaapse Minister van Infrastruktuur, Tertuis Simmers, het gesê die provinsiale regering verstaan dat die langdurige sluiting besonder moeilike omstandighede vir inwoners en plaaslike ondernemings veroorsaak.

Die tydelike herstelwerk word gedoen om beperkte maar veilige toegang deur die poort moontlik te maak, terwyl die veel groter permanente rehabilitasieprojek voortgaan.

Vier gedeeltes het heeltemal weggespoel: Meiringspoort is tydens die swaar reën en vloede in Mei en Junie ernstig beskadig.

Volgens die Wes-Kaapse regering was die vloedmerk op plekke dubbel so hoog as tydens die groot vloed van 1996.

Die poort bestaan uit 20 rivierkruisings en elk-een is in ’n mate beskadig. Vier groot gedeeltes van die pad is heeltemal weggespoel. Brugstrukture en ander padinfrastruktuur is ook beskadig, terwyl groot hoeveelhede sand, klippe, boomstompe en puin in die poort lê.

Die skade en die ligging van die pad maak die herstelwerk besonder ingewikkeld. Ingenieurs moet nie net die veiligheid en stabiliteit van die pad in ag neem nie, maar ook Meiringspoort se omgewingsensitiwiteit en erfeniswaarde.

Die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het gesê die herstelwerk moet ingenieurs- en omgewingsvereistes met mekaar balanseer, terwyl die natuurlike erfenis van die roete beskerm word.

Permanente herstelwerk kan minstens twee jaar duur. Hoewel ’n tydelike oplossing teen Desember beoog word, sal die volledige permanente herstel en rehabilitasie van Meiringspoort na verwagting minstens twee jaar duur.

Die projek sal volgens die Wes-Kaapse regering honderde miljoene rand kos. Vroeë ramings het die skade en nodige herstelwerk op meer as R400 miljoen geraam.

Meiringspoort is ’n belangrike ekonomiese en vervoerslagaar vir De Rust, Klaarstroom, Prins Albert en omliggende landbougemeenskappe. Die sluiting beïnvloed inwoners, toerisme, plaaslike ondernemings, vragvervoer en toegang tussen die Klein en Groot Karoo.

Padgebruikers word aangeraai om die sluiting en alle veiligheidsmaatreëls te respekteer en alternatiewe roetes te gebruik totdat ’n amptelike heropeningskennisgewing uitgereik word. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Meiringspoort bly steeds gesluit terwyl herstelwerk voortduur"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*