OUDTSHOORN, Calitzdorp en Ladismith is onder die dorpe in die Tuinroete Distriksmunisipaliteit waar die nostalgie van inryteaters dalk tydelik in September en Oktober vanjaar sal herleef.
Die organiseerders van verlede jaar se suksesvolle Knysna Filmfees het die fees vanjaar herdoop tot die Garden Route International Film Festival (GRIFF). Volgens die feesdirekteur, Patrick Walton, is terselfdertyd besluit om in die lig van die Covid-19-pandemie die filmfees aanlyn en in inryteaters in die Tuinroete-distrik aan te bied. Indien die plan om inryteaters te gebruik deur die pandemie in die wiele gery word, sal steeds met die fees aanlyn voortgegaan word.
Gepaste persele is reeds in Oudtshoorn, Calitzdorp, Ladismith, George, Mosselbaai, Knysna, Plettenbergbaai en Riversdal geïdentifiseer.
Volgens die feeskoördineerder, Shianne Maritz, hoop hulle dat die inryteaters ook na die filmfees op die onderskeie dorpe gebruik sal kan word.
Die fees vind van 21 September tot 11 Oktober 2020 plaas.