Barrow dankbaar oor laer munisipale tariewe

HY is dankbaar dat die Oudtshoorn-raad besluit het om die munisipale tariewe vir 2020/2021 oor ’n breë front te verlaag, sê die vurige sakeman Nic Barrow.

Barrow en sy eggenoot Ferda, wat deesdae in Franschhoek woon, is die eienaars van die Rosenhof Boutique Hotel op Oudtshoorn en besoek die dorp gereeld.

Barrow was een van die groot beswaarmakers teen die verhoogde munisipale tariewe.

In ’n brief aan Die Hoorn se brieweblad op 14 Mei het hy die huidige ekonomiese situasie op die dorp en in die land as ’n “noodtoestand” bestempel.

Hy skryf on­der meer: “Tientalle mense het my gekontak en bevestig dat indien daar voortgegaan word met die verhoging van tariewe, hulle in bankrotskap sal verval.”

Volgens Barrow het ’n raadslid aan hom gesê dat die verlaging in tariewe in ’n groot mate te danke was aan sy besware, en dat hy bly is hy kon ’n bydrae daartoe lewer.

Hy is egter van mening dat daar nog kwessies in die begroting is waaroor hy belangrike vrae het en sê dat hy ook hieroor briewe aan die munisipaliteit gerig het. (Deur Liesel le Roux)