DIT lyk deesdae maar naar in die Suid-Kaap met die manne met nuwe afro’s, vroue met die grys hare wat begin wys en ander met Siener van Rensburg-baarde!
Vlak 3 van die grendeltydperk laat haarkappers steeds nie toe om oop te maak nie.
Dua Wastani, eienaar van Dua’s Hairsaloon in die hoofstraat op Ladismith, sê: “Ons sukkel nou al vir meer as twee maande. Ons het gesinne en familie wat van ons inkomste afhanklik is. Verder sit ons in ’n tweestryd: moet ons die huur opsê, of hou ons aan?
“Dit sal in die ekonomie se belang wees as haarsalonne kan oopmaak. Ons sal aanpas by die rëels en slegs per afspraak werk of net die vereiste getal kliënte binne toelaat.”
Anthea Appollis, haarkapster in Bergsig, Calitzdorp sê: “Die meisies kom nie meer nie. Baie van hulle werk ook nie nou nie. Die regering sal ons nou moet oopmaak.”
Willie (Noet) Opperman, wat ook hare sny, sê: “Ek sny maar vir die pot. Ek sny by my kliënte se huise en net vir die mense in my woonbuurt. Ek hou by die reëls – gebruik handreinigers en dra my masker.
“Ek het ook al aansoek gedoen vir die Covid-19-toelaag van R350, maar lees dat nog net tien persone gehelp is. Intussen hoop ek op beter dae.” (Deur Deon Meyer)