Nuwe tee-ervaring in Oudtshoorn

Christo Smit (links) en Carl Coetzer in hulle proelokaal, Te Heerlik. Foto: Hannes Visser

Tot op hede was daar nog nie ’n plek in Oudtshoorn vir teeliefhebbers om ’n verskeidenheid tee te kan proe en rustig geniet nie.

Dit het egter hierdie maand verander toe Carl Coetzer en Christo Smit hulle proelokaal en teehuis, Te Heerlik, by Langenhovenweg 86 geopen het. Albei is versot op tee en het deeglike navorsing oor tee, die tradisies en smake gedoen en het tans ongeveer 20 verskillende teesoorte beskikbaar.

Behalwe dat Te Heerlik ’n proelokaal en teehuis is, is dit ook ’n winkel wat plaaslik vervaardigde “preserves” uit die Klein Karoo verkoop en daar word beplan om ligte eetgoed wat hulle self maak ook met verloop van tyd by te voeg.

Met hierdie toevoeging word Langenhovenweg toenemend ’n gedeelte van die dorp wat inwoners en besoekers se eet- en proelus op verskeie vlakke gaan bevredig.

Vir meer inligting oor Te Heerlik, kontak Christo by 072 833 7723.