Tweede boek van Stephan Henrico bekendgestel

Bo: Stephan Henrico met ’n kopie van sy jongste boek. Foto: Hannes Visser Onder: Johan Breunissen verwelkom gaste by die boekbekendstelling. Foto: Hans van der Veen

“Ons raak mos maar gewoond aan dinge en op ’n dag sien ons dit nie meer raak nie. Dis soos die volstruisvere wat langs die buitepaaie van Oudtshoorn lê. Eers is dit iets nuuts, dan hou mens stil en tel hulle op, maar dan raak jy gewoond. Die vere is steeds daar, maar ons sien hulle nie meer nie. So is die lewe ook.” So het Stephan Henrico Vrydag-aand oor die voorblad en titel van sy jongste boek, Vere langs die pad, gesels.

Dié boek verskyn ongeveer twee jaar na sy vorige een, Verhale uit Volstruisville, met vertellings en waarnemings uit sy eie lewe. Die vertrek by Beans Café in Kerkstraat was Vrydag-aand volgepak tydens die geprek wat Johan Breunissen met Stephan gevoer het.

Die eerste boek het bykans 16 jaar geneem om by publikasie uit te kom, vertel Stephan, maar nadat hy die publikasie en sukses daarvan ervaar het, het hy Vere langs die pad heelwat vinniger die lig laat sien en hy is so vol inspirasie dat daar beslis nog boeke gaan volg.

Met die bekendstelling het hy gesê die moeilikste verhaal wat hy geskryf het, was Sobergewoontes waarin hy sy hart oopmaak oor drankverslawing en die pad van die afgelope 17 jaar se soberheid. Hy vertel dat hy verlede jaar met die opvoering van Die Halwe Huis, met die dramaturg, Ricardo Arendse, oor die teks gesels het.

Ricardo het vertel hoe bevrydend dit was om sy storie te vertel. “Ek het al gedreig om te skryf en êrens rondom my 17 jaar soberverjaarsdag het ek besluit dis nou die tyd.”

Die verhale in die boek is nie bloot vertellings nie, in sommiges trap hy op tone en hy noem dat daar al mense was wat moeilik wou raak, maar dat hy bloot sy ervarings vertel en dat dit eerlik weergegee word.

Stephan is ’n kolonel by die Infanterieskool op Oudtshoorn en derhalwe speel sy militêre ervarings ook ’n groot rol in sy skryfwerk, maar hy doen dit dikwels tong in die kies en lei die leser opsetlik op ’n dwaalspoor soos wat die geval is in die verhaal, Vuurdoop waar die situasie wat geskets word die leser op die punt van sy stoel hou tot met die ontknoping.

Om meer oor Stehan Henrico as skrywer uit te vind en sy boeke te bekom, kontak hom by 082 442 7049. (HANNES VISSER)