Takel die stryd teen rommel en begin herwin

trash-bag-drawing-12
• Herwin so plastiek, glas, papier, karton en blikkies op Oudtshoorn

Deur Angelique Erasmus
INWONERS van Oudtshoorn wat wil deel word van die stryd teen rommel en plastiek, kan op Maandae alle herwinbare items in ’n sak voor hul huise plaas vir verwydering deur ’n privaat-herwinningsfirma van die dorp.

Volgens André Janse van Rensburg van Retain Recycle Re-Use moet mense net hul straatadresse deurgee aan die firma. Hul kontaknommer is 044 279 2081.

Inwoners wat reeds begin het met herwinning vertel dat hulle nou dikwels net een munisipale vullissak weekliks vir verwydering hoef uit te sit.

Janse van Rensburg gee die volgende riglyne oor wat herwinbaar is:
• Plastiek: sakke en bottels. Plastiek waarin items soos groente verpak word of wat soos selofaan voel, is nie herwinbaar nie;
• Papier – wit papier, koerante en tydskrifte;
• Karton;
• Blikkies; en
• Glas – bottels en houers. Vensterglas en drinkglase is egter nie herwinbaar nie.

Polistireen en skyfiepakkies is ook nie herwinbaar nie.

Janse van Rensburg versoek mense wat belangstel om te herwin om al die items – dit moet droog wees –  in een sak te sit. Hulle laai Maandae op by ker­ke en in woongebiede en deur die week by besighede. Indien iemand ’baie goed vir her­winning het, soos na ’n trek, kan  Retain, Recycle, Re-use geskakel word om dieselfde dag op te laai.

• Janse van Rensburg sê tans kom daar meer as 50% van alle herwinbare materiaal wat hulle ontvang vanaf Oudtshoorn se stortingsterrein.

• Goeie nuus is dat herwinning ook tans in die kollig is by drie skole op die dorp wat deur die  Cango Wildlife Ranch geïdentifiseer is nadat hulle ’n borgskap ontvang het van die World Association of Zoos and Aquaria (Waza) om kinders en die plaaslike gemeenskap te inspireer om die natuur te bewaar.

Twee herwinningshouers elk is by die Laerskool Wesbank, die Laerskool Laurus en die Laerskool Van Reede geplaas. Die houers is van verskillende kleure vir verskillende soorte herwinning. Die herwinning gaan ook met kompetisies gepaard waarin leerders en die skole pryse kan wen.