’n Optog tydens die konferensie. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
BY die honderd vroue van die Evangelies Lutherse Kerk se Moriastreek het die onlangse langnaweek op Oudtshoorn byeengekom vir hul jaarlikse konferensie.
Die streek sluit die parogieë van Oudtshoorn, Ladismith, Riversdal, Mosselbaai, Haarlem, die Tuinroete en Port Elizabeth in.
Tydens die konferensie is ’n nuwe streeksbestuur ook verkies.
Die tema van die konferensie was gebaseer op Openbaring 21:6 wat lui: “Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met water van die lewe, verniet.”
Die konferensie is Vrydagaand geopen met ’n nagmaaldiens gelei deur pastoor Wolf von Kilian en deken Jacques Grispe.
Tydens die diens het die vroue gebid vir families wat swaarkry as gevolg van armoede en werkloosheid, vir terminaal siek mense, vir geestelike groei, vir die kerk se leierskap, vir onderwys en opvoeding van kinders, vir ’n einde aan bendegeweld, kindermishandeling, misbruik van dwelms en alkohol en vrouemishandeling.
Saterdag se program het ’n inspirerende Bybelstudie onder leiding van Von Kilian oor die tema ingesluit asook verslae uit die verskillende parogieё en die verkiesing van die streekbestuur van die Vrouebond.
Die vroue het Sondagoggend ’n optog, gelei deur die Lutherse Jeugbrigade, vanaf die Hoërskool Môrester se koshuis gehou na die Lutherse Kerk waar die konferensie met ’n nagmaaldiens afgesluit is.
Die preek is gelewer deur pastoor Karin Fourie van die Ladismith Parogie en het gehandel oor die tema van die naweek. “Baie van ons dors na respek, geregtigheid, vrede, liefde, gesondheid en kan dit net by Jesus kry, verniet” het sy gesê.
Grispe het in sy afsluitingsboodskap die gemeenskap van Oudtshoorn bedank vir hul ondersteuning van die konferensie. Donasies uit die gemeenskap het ’n groot bydrae gelewer tot die sukses van die konferensie.
Grispe het die vroue en die kerk se leierskap aangemoedig om voort te gaan met die uitbouing van God se koninkryk te midde van uitdagings wat die kerk in die gesig staar. “Ons moet aanhou fokus op God wat ons die water van die lewe verniet gee,” het hy afgesluit.