
Klein Karoo Agri het op Woensdag 11 November sy tiende bestaansjaar as maatskappy saam met meer as 350 gaste op Oudtshoorn gevier.
Die tweede Produsente- en Verskaffersaand was ook ’n geleentheid om produsente en kliënte vir hul ondersteuning te bedank.
Klein Karoo Agri het spesiale toestemming gekry om vanjaar se lojaliteitsbetaling vroeër te doen en kon dit reeds op die dag van die geleentheid uitbetaal. Die aand het met toesprake en voorleggings by Klein Karoo Agri se hoofkantoor begin.
Daarna het gaste na die Oudtshoornse voerstoor beweeg, wat vir die aand in ’n uitstalruimte omskep is. Produsente het by die stalletjies aangedoen en met verskaffers oor hul produkte gesels.
Later het gaste saam gekuier en is hulle met ’n optrede deur die Afrikaanse sanger Appel verras.
Die eerste Produsente- en Verskaffersaand is in 2023 gehou.
“Sonder die ondersteuning van ons produsente is Klein Karoo Agri niks,” het Terblanche du Plessis, besturende direkteur, tydens die geleentheid gesê.
Hy het die personeel as die maatskappy se belangrikste bate beskryf en hulle en die direksie vir hul bydrae tot die jaar se resultate bedank.
Volgens Du Plessis versterk die maatskappy jaar ná jaar en beskik dit oor goeie kontantvloei.
Hy het gesê Klein Karoo Agri sal op dienslewering en sy vennootskap met produsente bly fokus. Hy het beklemtoon dat die maatskappy ook die breër gemeenskap dien en dat almal welkom is.
“KKA is daar vir elke produsent en saam sal ons die ekonomie in ons streek laat groei.” Hy het sy toespraak afgesluit deur die eer aan God te gee.
Groter lojaliteitsuitbetaling aan bloukaarthouers
Klein Karoo Agri het vanjaar 50% van sy wins voor belasting vir die lojaliteitsuitbetaling aan bloukaarthouers bestem, teenoor 30% die vorige jaar.
Elke kaarthouer se uitbetaling word volgens hul aankope bereken. Aankope by die maatskappy se handelstakke, meganisasie- en besproeiingsafdelings en by Klein Karoo Fuels se vulstasies tel daarvoor.
Die voorleggings het ook aandag gegee aan die uitdagings waarmee produsente die afgelope jaar te kampe gehad het. Boere in die Klein Karoo moes eers droogte en daarna vloede trotseer. Klein Karoo Agri het krediet beskikbaar gestel om produsente te help om hul gewone insetkoste sowel as herstelwerk ná vloedskade te finansier.
Bek-en-klouseer het intussen die veehandel onder druk geplaas, veral deur die getal diere wat op veilings aangebied is, te raak.
Werknemersbelang groei en groep beplan uitbreiding
Klein Karoo Agri Empowerment Holdings se belang in Klein Karoo Fuels het van 10% tot 26% gegroei.
Die aandeelhouers van dié maatskappy is die tweeweekliks besoldigde werknemers wat reeds langer as vyf jaar aaneenlopend by die groep werk.
Die groep het ook twee nuwe winkels by die Jou Eie! Sentrum verwelkom, waar Pixcell en Male Ego Barber Shop geopen het.
Volgens Klein Karoo Agri is ondersoeke en onderhandelinge oor nog drie sakegeleenthede reeds ver gevorder. Dié geleenthede sal na verwagting in die 2027-finansiële jaar deel van die groep se bedrywighede vorm. Die groep mik ook na ’n netwerk van nege vulstasies.
Verskaffers by die uitstalling
Die verskaffers wat aan die aand deelgeneem het, was Absa, AfriSam, AfriVet, Agrinet, Antrovet Animal Health, AVI Products, Camelus, Cape Gate, Case, Case Construction, Duram, HS Custom Batteries, Irrigation Unlimited, Jonssons Workwear, KKSP, Kyron Animal Health, Lindsay Africa, Moov, MSD, Nel Tenke, Netafim SA, Nova, Oranjeriviervoere, RCL Consumer Foods (EPOL), RCL Foods (Molatek), Rovic, Skillcraft, Total, Tyremart, Virbac, Voermol Voere, Zoetis en Suzuki Oudtshoorn.






Be the first to comment on "Klein Karoo Agri vier tien jaar en betaal lojaliteitsgeld vroeër uit"