Familie en vriende vier Isi se lewe

Foto verskaf.

Familie, vriende en kollegas neem afskeid van Isidore (Isi) Langenhoven (57), wat op Saterdag 21 November onverwags oorlede is.

Langenhoven is op 7 Januarie 1969 in Ceres gebore en het Hoërskool Heidelberg bygewoon.

Hy het opleiding aan die polisiekollege ontvang en na Oudtshoorn verhuis.

In ’n huldeblyk dink sy lewensmaat, Eloise du Preez, terug aan die twee jaar waarin hulle saam ’n lewe gebou het. Sy onthou sy lag, hul kuiers by die dam en die grappies wat net hulle twee verstaan het.

“Hoe sê ’n mens totsiens vir iemand vir wie jy nooit gereed was om totsiens te sê nie?” vra Eloise in haar huldeblyk aan die man wat sy haar beste vriend en steunpilaar noem.

“Ons het soveel liefde, geluk, herinneringe en avonture in daardie twee jaar ingepas,” skryf sy. “Ons het saam gelag, saam gedroom, saam planne gemaak en ’n lewe gebou wat vir my alles beteken het.”

Sy skryf ook oor wat Isi vir haar en haar dogter Marli beteken het. “Jy het nie net my lewe verander nie, Isi. Jy het my en Marli se wêreld soveel mooier gemaak.”

Langenhoven was die eienaar van Oudtshoorn Eiendomme voordat hy Rawson se Oudtshoorn-franchisenemer geword het. Hy was prinsipaal by Rawson Oudtshoorn en het ook die De Rust-span gelei. Die Oudtshoorn-span onthou hom as ’n mentor en vriend.

“Isi se passie, toewyding, omgee en opregte mensehart het ’n besondere verskil gemaak in soveel lewens,” het die span in ‘n huldeblyk geskryf.

Die Oudtshoorn-kantoor was Maandag 23 November gesluit om die span tyd te gee om te rou en mekaar te ondersteun. Die span het kliënte, vriende en die gemeenskap vir hul ondersteuning bedank.

“Met hartseer deel ons die nuus van my pa se afsterwe,” het sy dogter, Lisia Voigt, geskryf. Sy het almal wat saam met die familie wou afskeid neem, genooi na die gedenkdiens wat vir Donderdag 26 November by die NG Kerk Welgeluk in Oudtshoorn gereël is.

Sy het gevra dat mense vrolike, kleurvolle klere aantrek. “Kom vier saam met ons die lewe wat hy geleef het!”

Langenhoven laat ook sy seun, Isodore jr, agter.

Eloise skryf dat sy nog nie weet hoe die lewe sonder Isi gaan lyk nie. Sy is dankbaar vir die tyd wat hulle saam gehad het en sê sy sal hom vir die res van haar lewe saam met haar dra.

“As liefde alleen jou hier kon hou, sou jy vir altyd by ons gebly het.”

Be the first to comment on "Familie en vriende vier Isi se lewe"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*