
Die DA, VF Plus en Icosa het ’n koalisie gevorm om Oudtshoorn te regeer. Die drie partye beskik saam oor 14 van die munisipale raad se 25 setels. By die nuwe raad se eerste vergadering is die DA se Jerome Lambaatjeen met 15 stemme tot burgemeester verkies.
Die raad is op Vrydag 20 November in die banketsaal van die Oudtshoorn-burgersentrum ingehuldig. Hooflanddros Ryan van Harte het die raadslede ingesweer. Altesaam 24 van die 25 raadslede was teenwoordig.
Die munisipale bestuurder, Mkhululi Yekani, het aanvanklik die verrigtinge gelei. Ná Johan Allers se verkiesing as speaker het Yekani die voorsitterskap aan hom oorgedra.
Lede van die publiek wat nie in die banketsaal gesit het nie, kon die vergadering regstreeks op ’n skerm in die ouditorium volg. Inwoners kon ook van elders af aanlyn inskakel.
Só het die raad gestem
Die raad het eerste ’n speaker verkies. Johan Allers van die VF Plus het 15 stemme gekry teenoor die agt van Suzane Jansen van die PA. Een stembrief was bedorwe. As speaker lei Allers raadsvergaderings, sorg hy dat die raad se reëls nagekom word en hou hy toesig oor die munisipaliteit se uitvoerende gesag.
Lambaatjeen, die DA se raadslid vir wyk 6, het in die burgemeestersverkiesing 15 stemme gekry teenoor die agt van Caroline Wagner-Windvogel van die ANC. Een stembrief was bedorwe. As uitvoerende burgemeester moet Lambaatjeen onder meer die munisipaliteit se behoeftes en prioriteite aan die raad voorlê en toesig hou oor dienslewering.
Johan Fourie van die DA, wat wyk 1 verteenwoordig, is met 16 stemme tot onderburgemeester verkies. Leon Campher van Advieskantoor het agt stemme gekry. Al 24 stembriewe was geldig. Fourie neem die burgemeester se pligte oor wanneer dié afwesig of onbeskikbaar is.
Jackie Meyer, die DA se raadslid vir wyk 3, is as hoofsweep aangewys. Sy skakel onder meer met die verskillende partye oor hul verteenwoordiging in die raad en sy komitees.
Die DA het in die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November tien van Oudtshoorn se 13 wyke gewen. Die ANC het die oorblywende drie gewen. Die DA se tien wykssetels, die VF Plus se drie proporsionele setels en Icosa se een proporsionele setel gee die koalisie een setel meer as die 13 wat vir ’n meerderheid nodig is.
Die raad sal oor die vyfjaartermyn toesig hou oor dienslewering in die Groter Oudtshoorn.
Lambaatjeen vra inwoners om raad aanspreeklik te hou
Lambaatjeen sê hy wil deel wees van die verandering waarop Oudtshoorn se gemeenskappe gewag het. Hy wys op gebrekkige dienslewering en te min geleenthede vir jongmense as twee van die probleme wat aandag verg.
Lambaatjeen het sy eerste toespraak as burgemeester in Afrikaans en Engels gelewer. Hy het die VF Plus en Icosa vir hul samewerking bedank en raadslede gevra om hul politieke verskille opsy te skuif en saam te werk om inwoners te dien.
“Probleme kan nie oornag opgelos word nie, maar ons verbind ons daartoe om dit openlik, eerlik en saam aan te pak. Ons almal saam,” het hy gesê.
Betroubare basiese dienste is volgens Lambaatjeen die raad se eerste prioriteit. Hy het verduidelik dit was die duidelike boodskap van inwoners met wie hulle tydens die verkiesingsveldtog gepraat het.
Hy het skoon water, werkende rioolstelsels, goed onderhoude paaie, vullisverwydering, straatligte en veilige openbare ruimtes uitgesonder.
“Dit is nie voorregte nie. Dit is regte waarop ons mense aanspraak het,” het hy gesê.
Lambaatjeen het ook genoem die raad sal na inwoners luister voordat besluite geneem word. “Ons belofte is nie om perfek te wees nie, maar om met integriteit op te tree.”
Hy het gesê die raad wil “eerlik verslag doen oor die vordering wat ons maak” en sal verantwoordelikheid aanvaar waar dit tekortskiet. Hy het inwoners gevra om die raad aan dié onderneming te hou.
Van die mense wat ná die toespraak kommentaar gelewer het, het gesê Lambaatjeen is ’n goeie spreker wat sy boodskap duidelik oordra en ’n burgemeester op wie Oudtshoorn trots kan wees. Inwoners sal nou dophou hoe die raad sy beloftes oor basiese dienste nakom. (MALISSA SPIES)
Be the first to comment on "Lambaatjeen lei Oudtshoorn se nuwe koalisieregering"