Oudtshoornse raadslid in hof op aanklag van poging tot moord

Slegs drie dae nadat hy as lid van die nuwe Oudtshoornse munisipale raad ingesweer is, het ’n plaaslike raadslid Maandag 23 November vir die eerste keer in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn op ’n aanklag van poging tot moord.

Die hofverskyning volg op ’n aanval wat Sondag 22 November omstreeks 18:10 by Square Camp, Bella Rosa, in Rosebank plaasgevind het.

Volgens Chris Spies, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap, was polisielede besig met patrollies toe lede van die publiek die polisievoertuig voorgekeer en die beamptes oor die aanval ingelig het.

Polisielede het onmiddellik gereageer en ’n man met verskeie steekwonde op die toneel aangetref. Hy is per ambulans na die hospitaal vervoer.

Vyf verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem. Volgens inligting tot Die Hoorn se beskikking is twee van die verdagtes volwassenes en drie minderjarig.

Na verneem word, hou die saak ook verband met ’n aanklag van huisbraak, hoewel die polisie dit nog nie bevestig het nie.

Die Hoorn was Maandag by die hof teenwoordig, maar is nie toegelaat om die hofverrigtinge by te woon nie.

Die raadslid is op borgtog van R500 vrygelaat en die saak is tot 26 Januarie 2027 uitgestel.

Die polisieondersoek duur voort.

Lees ook:

Oudtshoorn se nuwe raad word Vrydag ingehuldig

Be the first to comment on "Oudtshoornse raadslid in hof op aanklag van poging tot moord"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*