
As jy aan Oudtshoorn dink, is die kans goed dat ’n volstruis iewers in die prentjie opduik. In die werkswinkels van die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) kry dié voël se eierdoppe ’n tweede lewe.
Dit is waar kliënte aan die vereniging se O-so-Eggy-projek oorbelle uit die doppe maak en die stukkies soos ’n legkaart op hout pas om kleurvolle magnete en sleutelhouers te maak.
Nou vat hul handwerk die pad Hartenbos toe, waar dit van 5 Desember tot 3 Januarie by die Garden Route Gift Market te koop sal wees.
Oudtshoorn APD is ’n organisasie sonder wins-oogmerk wat mense met gestremdhede en hul gesinne in Oudtshoorn en omliggende gemeenskappe ondersteun. Die vereniging verwys na die mense wat aan sy programme deelneem as kliënte.
Van dié kliënte werk aan die O-so-Eggy-projek by APD se werkswinkels in Oudtshoorn en Dysselsdorp.
Vir die werkswinkel in Oudtshoorn het dit alles by oorbelle begin. Die kliënte aan die projek het reeds jare lank oorbelvorms uit volstruiseierdoppe vir klante in Oudtshoorn en Kaapstad gemaak. Volgens Sarina Coericuis van Oudtshoorn APD het die werkswinkel in daardie stadium te min geld gehad om die oorbelle self klaar te maak.
In 2023 het APD twee advertensies vir befondsing gesien en besluit om vir albei aansoek te doen. Met dié geld kon die werkswinkel die oorbelle verder ontwikkel en die O-so-Eggy-projek in 2024 met 22 kliënte begin. Elf was van die Oudtshoorn-werkswinkel en elf van die Dysselsdorp-werkswinkel.
Een toekenning is deur Business and Arts South Africa (BASA) gemaak, met die betrokkenheid van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur en die Presidential Employment Stimulus. Die tweede toekenning het direk van die departement gekom.
“Volstruiseierdoppe is vir ons gratis bekombaar en daarom gebruik ons dit,” sê Coericuis.
Volgens die Wes-Kaapse APD werk 44 kliënte daagliks by die twee werkswinkels aan die produkte. Die projek gee mense met gestremdhede die geleentheid om praktiese vaardighede aan te leer wat hulle kan help om vir werk in die oop arbeidsmark voor te berei.
Die verkope help om materiaal vir nuwe produkte te koop en bied ’n inkomste aan die mense wat dit maak. Van die opbrengs help ook om aktiwiteite vir die organisasie se kinders en ander kliënte te finansier.
Die produkreeks het intussen gegroei. Benewens die oorbelle maak die werkswinkels ook ronde en vierkantige onderleggers met eierdopmosaïek, spieëltjies vir handsakke en verskillende soorte magnete en sleutelhouers.
Kopers kan ook verwelkomingsborde en huisnommers laat maak.
Die kliënte maak die oorbelle van die begin af en berei die stukke voor voordat dit na iemand gaan wat die gravering doen.
Wanneer die stukke terugkom, moet dit nog afgewerk word. Van die kliënte kan dan onder toesig die ringetjies en hakies aansit.
Vir die magnete en sleutelhouers word die hout vooraf in die regte vorms gesny. Die kliënte pak self die mosaïek en vul die voeë. Sodra die voegmiddel droog is, maak hulle die produkte self skoon. Hulle leer ook hoe om die produkte te verf en af te rond. Van die kliënte help met die verpakking.
Coericuis sê sy dink APD se kliënte besef dalk nog nie hoe groot die mark is of hoe belangrik hul aandeel in die maak van die produkte is nie. “Ons probeer maar net altyd motiveer en groot ophef maak as ons aan voorraad werk.”
APD se personeel en die kliënte sal nie self by die mark verkoop nie. Hulle sal die produkte vooraf uitpak en ná die mark weer afhaal. Die mark hanteer die verkope met strepieskodes, en O-so-Eggy se produkte sal deur die loop van die mark beskikbaar wees.
Mense wat die produkte plaaslik wil koop, kan Oudtshoorn APD se kantoor by 044 272 2106 kontak of die werkswinkel by 26ste Laan 441 in Bongolethu besoek. (MALISSA SPIES)
Be the first to comment on "Volstruiseierdoppe kry ’n tweede lewe by Oudtshoorn APD"