Die prokureurs van ’n Oudtshoornse raadslid wat Maandag 23 November in die landdroshof verskyn het, het die publiek gevra om spekulasie oor die saak te staak. Hulle beklemtoon dat hul kliënt onskuldig geag word totdat ’n hof hom skuldig bevind.
Die Hoorn het in die aanvanklike berig besluit om die raadslid se naam weg te laat. Ons vra lesers om dié besluit en die hofproses te respekteer.
In ’n verklaring van 27 November sê die raadslid se prokureurs dat hy op 22 November ’n oproep oor ’n beweerde aanranding ontvang het. Volgens hulle meen hy dat hy onder die omstandighede redelik en in sy familie se belang opgetree het. Hy behou hom die reg voor om in die hof op die aanklagte te antwoord.
Die prokureurs sê hul kliënt respekteer die publiek se reg om oor die verloop van die saak ingelig te bly. Hulle vra die publiek om die hofproses sy gang te laat gaan en hulle van spekulasie te weerhou totdat die saak afgehandel is.
Sy prokureurs sê ook dat hy sy verantwoordelikheid as raadslid ernstig opneem en daartoe verbind bly om die groter Oudtshoorn-gemeenskap in dié rol te dien.
Die saak is tot 26 Januarie 2027 uitgestel.

Be the first to comment on "Raadslid se prokureurs vra publiek om hofproses te respekteer"