Van links is suster Helen Human, Robyn Prinsloo, Sandi-Lindsey Powrie, Mehlaleng Kunyane en suster Lehna Antha, almal personeel van die Oudtshoorn Hospitaal, met van die sitplekstoeltjies wat verlede Vrydag aan jong moeders oorhandig is. Foto: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
TWINTIG jong moeders het verlede Vrydag babastoeltjies vir motors van die Padongelukkefonds (PAF) ontvang as deel van ‘n landwye bewusmakingsveldtog ten opsigte van die veilige vervoer van kleuters.
“Die bestuurder van ’n motorvoertuig moet seker maak dat babas onder drie jaar in ’n babastoeltjie vasgegordel is om ’n boete vry te spring,” het Ernest Nkuna, media kommunikasiebeampte van die PAF tydens die oorhandiging van die stoeltjies gesê.
Volgens Nkuna is dit sedert 2015 verpligtend dat kleuters in ’n baba-stoeltjie vervoer moet word.
Die wet het volgens Nkuna in 2015 in werking getree en gebasseer hierop het die PAF die inisiatief geneem om deur middel van ‘n landwye veldtog die publiek bewus te maak van die belangrikheid en veiligheid om babas in babastoeltjies te vervoer.
Volgens Nkuna het die padongelukkefonds sedertdien landwyd meer as 2 000 van die stoeltjies by hospitale en padblokkades versprei.
Suster Helen Human het die PAF namens die moeders en die Oudtshoorn Hospitaal bedank.